WARNECK, GUSTAV

WARNECK, GUSTAV (1834–1910) het geen praktiese ondervinding van interkulturele getuienis* buite Europa gehad nie. Ná jare as gemeente*predikant* en drie jaar in ’n organiserende hoedanigheid by die Rynse Sendinggenootskap, is hy aangestel as die eerste professor in missiologie (sendingwetenskap*) in Duits­land, aan die Universiteit van Halle. Daar het hy vir elf jaar (1897–1908) ’n sleutel­rol gespeel om sendingwetenskap universitêr te vestig en akademiese geloof­waardigheid te gee. So vroeg soos 1874 het hy die maandblad Allgemeine Missions-Zeitschrift tot stand gebring om missiologiese nadenke te stimuleer. Deur middel van verskeie sendingkonferensies het hy ook bygedra tot ’n verenigde Duitse agent­skap vir Protestantse* sending*. Warneck se grootste invloed het uitgegaan van twee publikasies: Abriss einer Geschichte der Protestantischen Missionen (1882–1910) en sy magnum opus, die eerste omvattende sistematiese behandeling van die missiologie, Evangelische Missionslehre (1892–1903). Warneck was ’n kind van sy tyd en tipiese eienskappe van die 19de-eeuse Duitse sen­ding is sigbaar in sy werk: ’n kombinasie van Bybelse* en natuurlike teologie*, koninkryks­prediking en volksbewussyn, enkelbeke­rings en volkskerstening (Kyk by: Volksbe­kering). Laasgenoemde begrip, Volkschris­tiani­sierung, is waarskynlik die term waarvoor Warneck (saam met Gutmann* en Keys­ser) onthou word: die taak van Chris­ten­sending is om (op ’n paternalistiese wyse) die natuurlike gemeenskapsverbande van inheemse mense te bewaar en om volksgewoontes te kersten sodat ’n Volks­kirche onder hulle tot stand kan kom. (Kyk ook: Vokskerk.)

Sidebar