WARREN, RICHARD (RICK)

WARREN, RICHARD (RICK) (1954–) is in San Jose, Kalifornië, gebore en het sy teologiese vorming by die Southwestern Bap­tist Theological Seminary in Fort Worth ontvang en sy doktorsgraad by die Fuller Theological Seminary in Pasadena. Verskeie eredoktorsgrade is aan hom toege­ken. In 2005 is Warren deur US News and World Report benoem as een van die 25 top Amerikaanse leiers en deur Time as een van die 15 wêreldleiers wat die meeste saak maak (2004), en as een van die 100 mees invloedryke mense in die wêreld (2005). Warren het in 1980 die Saddleback Church in Lake Forst, Kalifornië, met een gesin begin en in 2007 woon gemiddeld 22 000 mense weekliks die byeenkomste in die massiewe kerksentrum by wat op byna 50 ha staan. Warren is bekend vir sy boek Purpose Driven Life waarvan meer as 22 miljoen kopieë in 28 tale verkoop is. Dit is ook in Afrikaans beskikbaar (Die doe­gerigte lewe) en word wyd in kerke in Suid-Afrika gebruik. Die boek probeer ’n blou­druk vir ’n Christelike lewe in die 21ste eeu gee – ’n leefwyse wat op God se ewige waar­des (aanbidding, gemeenskap, dissipelskap, bediening en getuienis/evangeli­sering) gegrond is, en nie op kulturele waar­des nie. As gevolg van die sukses van dié boek, gee hy 90% van die inkomste daar­­van aan die gemeente en die meer as 300 projekte wat hulle bedien. Hy het ook die salaris wat hy oor die jare van die gemeente ontvang het, terugbetaal.

Sidebar