WEDERGEBOORTE

WEDERGEBOORTE. Niemand van ons kan in die ryk van God kom tensy ons weergebore word nie, sê die klassieke gereformeerde* doop*formulier. Die wedergeboorte is egter nie iets wat ons self kan laat gebeur nie. Dit is  ’n genadige wonderwerk van die Gees* van God, wat uit genade* in ons woon en werk (vgl Jesus* se gesprek met Nikodemus* in Joh 3). Die Gees van God neem die inisiatief. Ons redding kan dus nie by óns geloof* en bekering* begin nie. Geloof en bekering is nie ’n voor­waarde vir wedergeboorte nie, maar die vrug/gevolg daarvan.

Presies hoe ons weergebore word, is ten diepste ’n misterie. Hoofstuk 3 en 4 van die Dordtse Leerreëls* probeer dit soos volg onder woorde bring: Deur die kragtige werk van die Gees “dring Hy deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart … en maak die wil wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwil­lig was, gewillig … Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood … wat God sonder ons in ons werk” (par 11 en 12).

Die term “wedergeboorte” word soms ook vir die omvattende vernuwing van die gelowige se lewe gebruik (Nederlandse Ge­loofsbelydenis*, Artikel 24), en selfs vir die totale vernuwing van hemel en aarde (Matt 19:28).

Sidebar