WEDERKOMS

WEDERKOMS. So onvoorstelbaar as wat die wederkoms van Christus* is, net so on­ont­beerlik is dit vir ons geloof*. Dis onontbeerlik omdat daar te veel dinge op hierdie aarde is wat teen die wil van God is. Ons kan nooit vrede hê met al die ellende en onreg nie, en God nog oneindig minder. Daarom is dit nie vreemd nie dat die vroeë Christene intens na Christus se wederkoms uitgesien het. Daar is min sake waarna meer dikwels in die Nuwe Testament* verwys word. Juis omdat die eerste Christene swaar gekry het, het hulle verlang na die nuwe aarde waar alles nuut sal wees.

Maar sy koms is ook onvoorstelbaar. Dit is deel van die apokaliptiese (Kyk by: Apokaliptiek) wêreldbeeld wat gebeurtenisse verwoord wat nie deel van ons werklikheid is nie, en daarom van onwerklike simbole gebruik maak. Daar is nie regtig ’n dier met tien horings en sewe koppe nie (Op 13:1 en volgende verse). Dit is ’n simbool van ’n persoon of ’n mag. Net so kan ons ons nie voorstel presies hóé die Here* sal kom nie. Ons kan net sy koms in opgewonde spanning afwag, met die wete dat ons ’n paar heerlike verrassings sal kry.

Die Nuwe-Testamentiese skrywers is eenparig in hulle boodskap dat die Here enige, elke oomblik kan kom. Die tekens van sy koms is almal al in die tyd van die Nuwe Testament vervul, en word sedertdien herhaaldelik vervul as staande oproep aan al­mal om altyd gereed te wees (Kyk by: Te­kens van die tye). Dit is nie moontlik om te bereken wanneer Hy sal kom nie. Hy sal kom soos ’n dief in die nag (1 Tess 5:4). Teen ’n dief het ’n mens net een verweer: om vooraf gereed te maak.

Sidebar