WEGRAPING

WEGRAPING is ’n gebeure waardeur ’n mens as gevolg van God se ingryping, in die hemel* opgeneem word sonder om te sterf. Hierdie wegraping kan van tydelike aard wees, sodat die betrokkene terugkeer om op aarde te leef, of die mens kan vir ewig in hierdie verhoogde toestand bly. Die be­kendste Bybelse* figure wat met wegraping geassosieer word, is Henog* (Gen 5:24; Heb 11:5) en Elia* (2 Kon 12:1, 11). Die vroeë Jodedom* het Deut 34:6 so verstaan dat God ook vir Moses* weggeraap het (Esra* en Barug* is ook onder hierdie groep), daar­om kon Elia en Moses volgens Mark 9:2-9 op die hoë berg aan Jesus* verskyn. Die Christendom* het miskien Jesus se hemelvaart* as iets soos ’n wegraping verstaan  (Mark 2:20; Joh 20:17-18). Die gelowi­ges wat met Christus* se wederkoms nog leef, sal volgens Paulus* weggeraap word (vgl 1 Tess 4:17 en Kol 1:13). Die aardse Jesus (vgl Matt 4:5, 8), Filippus (Hand 8:39) en Johannes* van Openbaring word weggevoer (Op 17:3; 21:10), maar hier is dit net van een aardse plek na ’n ander. Paulus skryf van sy eie reis deur die hemel (2 Kor 12:1-4). (Kyk ook: Dispensasionele Premil­len­nialisme*.)

Sidebar