WELLHAUSEN, JULIUS

WELLHAUSEN, JULIUS (1844–1918) is in Hameln gebore en het soos die “fluitspe­ler van Hameln” talle vakgenote agter hom laat aanloop. Hy studeer vanaf 1862 teologie* in Göttingen en word reeds in 1872 professor in Ou Testament* te Greifswald.

Weens sy Christelike vroomheid, raak hy binne ’n dekade van universiteitsonderrig daarvan oortuig dat hy nie in staat is om studente met die oog op die kerklike be­diening voor te berei nie. Daarom maak hy ’n loopbaanverandering deur sy fokus na Semitiese* tale te verskuif wat hy aanvanklik in Halle en Marburg doseer, om uiteindelik vanaf 1892 in Göttingen in Semitiese tale, Arabies, Islamkunde en uiteindelik ook in Nuwe Testament* klas te gee.

Ná sy aanvanklike bestudering van die Samuelboeke* bepaal hy hom by die on­der­soek van die bronne wat onderlig­gend aan die Pentateug* is. So raak hy oortuig dat die Ou Testament veel later geskryf is as die gebeure waarna dit verwys. Tradi­sioneel het Ou-Testamentici aanvaar dat die wet* (tora) ouer as die profete* (nebiim) was en dat die priestergeskrif die oudste bron is. Wellhausen betoog egter dat die wet eers ná die profete kom en dat dit die rekonstruksie van Israel* se geskiedenis ingrypend beïnvloed het. In samehang met werk van Graf, Colenso en Kuenen argumenteer Wellhausen vir die ontstaan van die Jahwis en die Elohis in die tyd van die vroeë Israelitiese konings, met die Deutero­no­mistiese geskiedwerk* wat later in die regeringstyd van Josia* ontstaan en met die priesterskrywer wat gedurende en na die Babiloniese ballingskap* na vore tree.

 

Sidebar