WELSYNSTAAT

WELSYNSTAAT verwys breedweg na lande met ’n sterk gesentraliseerde staatsbestel wat ’n ekonomiese en sosiale beleid volg waardeur die staat primêre verant­woor­delikheid aanvaar vir die welsyn van sy burgers. Dit sluit aspekte in soos die voorsiening van minimum standaarde van inkomste, sosiale beskerming en die voorsiening van dienste op die bes moontlike vlak. Dit is ’n konsep wat in die laat-19de en 20ste eeu in nasionalistiese Europa ont­­wik­kel het, en veral onder Bismarck in Duits­land baie invloedryk geword het. Ná die groot depressie van die 1930’s is dit deur ver­skeie lande omhels.

Die idee van ’n staat (koning) wat verantwoordelikheid aanvaar vir die welsyn van sy burgers, is nie vreemd aan die Bybel* nie en resoneer by onder andere die profete* met hulle appèl op die regverdigheid teenoor die vreemdeling, die wees en die weduwee (Jes 1:23; Jer 22:3; Sag 7:10; Mal 3:5). Die deurlopende tema van die Bybel is immers barmhartigheid* en naasteliefde* (Luk 10:25-37; 16:19-31).

In die 21ste eeu word al hoe meer van owerhede verwag om toe te sien dat hulle burgers menswaardig kan lewe. Waar dit nie gebeur nie, word op verskillende ma­niere druk deur die buitewêreld uitgeoe­fen dat dit wel moet gebeur. In Suider-Afrika is bv in die eerste dekade van die 21ste eeu toenemend gefrons oor die haglike omstandighede waarin die owerheid in Zimbabwe toelaat dat sy burgers lewe. Die kerk* het in hierdie verband ’n eie verantwoordelikheid – om die evan­gelie* met sy implikasies vir elke vlak van die lewe te verkondig, om die staat te herinner aan sy verantwoordelikheid, en om saam te werk met die staat en nie-rege­rings­organisasies sodat nood verlig en mense gehelp kan word om menswaardig te kan lewe.

In Suid-Afrika word deur middel van welsynstoelaes aan miljoene mense brood op die tafel gegee. Die probleem is egter dat die poel belastingbetalers van wie die welsynsgeld bekom moet word, baie minder is as die groeiende aantal behoeftiges. Daarom word oor die volhoubaarheid van so ’n stelsel druk gedebatteer. Die “oplossing” is uiteraard werkskepping sodat mense in staat gestel kan word om self “vis te vang” en nie net “vis te ontvang” nie. Pas dan word mense se menswaardigheid regtig gerespekteer.

Sidebar