WEPENER, CASPARUS JOHANNES (CAS)

WEPENER, CASPARUS JOHANNES (CAS) (1973-) is gebore in die Oos-Kaap, studeer aan die Universiteit Stellenbosch – aanvanklik drama, op die ou end teologie* – en was tentmaker-predikant van Maitland en Ysterplaat-Suid en deeltyds betrokke by Buvton (Communitas), voordat hy Pinelands se NG Kerk*-predikant* geword het. Hy spesialiseer in liturgiek (Kyk by: Liturgie) en homiletiek* en word as professor in praktiese teologie* na die Universiteit Pretoria beroep. Hy was onder meer ’n medewerker aan die NG Kerk se Handleiding vir die erediens wat in 2010 verskyn het. In 2013 verras hy met ’n kortverhaalbundel, Dubbelfoto, wat in literêre kringe goed ontvang is. Daar is gewys op die feit dat sy verhale “nie alte maklik hulle geheime prysgee nie”, waarop hy só reageer: “Vir my is die verlede nie alleen ’n ander land nie, maar dig verweef met die hede. In daardie verweefdheid sit die misterie ingebed waaroor ek my oneindig kan verwonder. Ou boeke of huise of foto’s of briewe is vir my vol misterie wat self ook nie maklik hulle geheime prysgee nie.” Oor die “ideale gereformeerde* erediens*” sê hy: “Calvyn het glo graag sy erediens met die Nunc Dimittis, oftewel ‘Loflied van Simeon’, laat eindig: ‘Here, laat u dienaar nou in vrede gaan omdat my oë u verlossing gesien het’. Die ideale gereformeerde erediens is een wat voortdurend in afhanklikheid daarna streef om met onderskeiding die liturgie vir die eie tyd so in te rig dat Simeon se loflied wel gesing kan word” (Kerkbode, 6 Desember 2013). In 2015 het Wepener se boek Kookpunt! verskyn waarin hy aan die hand van Bybelse verhale soos dié oor Jefta oor geregverdigde woede en die hantering daarvan skryf.

 

 

Sidebar