WÊRELD

WÊRELD het in die Bybel* verskillende betekenisse:

  1. ‑Die begrip word gebruik vir die fisiese wêreld wat deur God geskep is (Ps 24:1-2). Volgens die Bybel het die wêreld ’n begin (Matt 24:21) en ’n einde (1 Joh 2:17) en word dit gekenmerk deur verganklikheid (Rom 8:23).
  2. ‑Die begrip “wêreld” word ook vir die mensdom gebruik. In sulke gevalle word dit soms op ’n positiewe/neutrale manier gebruik, bv wanneer gesê word dat God lief is vir die wêreld (Joh 3:16).
  3. ‑In baie ander gevalle word die begrip egter op ’n negatiewe manier gebruik om te verwys na die mensdom se sonde* en opstand teen God. Paulus* praat b­v van die “hele wêreld” wat “strafwaardig voor God” is (Rom 3:19) en van die “wysheid*” en die “heersers van hierdie wêreld” wat téén God is (1 Kor 2:6).

4. ‑In Johannes* se Evangelie* en in sy brie­we* is baie van die verwysings na die “wêreld” negatief: die wêreld erken God nie (Joh 1:10), haat vir Christus* (Joh 7:7), is in die mag van die duiwel* (1 Joh 5:19) en staan onder die oordeel* (Joh 12:31). Christus het egter juis gekom om die sonde van die wêreld weg te neem (Joh 1:29) en om die wêreld met God te versoen (2 Kor 5:19).

Sidebar