WÊRELDBIDDAG VIR VROUE

WÊRELDBIDDAG VIR VROUE. Omstreeks 1887 het die nood van immigrante en die nagevolge van slawerny* vroue van die Presbiteriaanse Kerk* in Amerika aangegryp. Hulle het ’n oproep vir ’n nasionale dag van gebed gedoen, en wat later die Wêreldbiddag vir Vroue sou word, het uit hierdie saadjie gegroei. Vroue van ander denominasies het ingeskakel en die beweging het vinnig na ander lande versprei. In 1930 het mevv A McGregor en U Cook die eerste Wêreldbiddag vir Vroue in Suid-Afrika gelei. Tussen 1945 en 2007 was daar 14 nasionale voorsitters van die Wêreldbiddag in Suid-Afrika en in dieselfde tydperk net drie nasionale sekretaresses, van wie mev Sarie Jansen die langste was, van 1976 tot 2006. Die Wêreldbiddag vir Vroue is ’n ekumeniese* gebedsnetwerk van Christenvroue in sowat 160 lande wat elke jaar op die eerste Vrydag van Maart vergader om die biddag te hou. Dit bied aan vroue wêreldwyd die geleentheid om hulle geloof in Jesus* Christus* oor grense heen te beleef, versterk te word deur die geloofservarings van Christene van ander lande en kulture, en ander se laste te help dra deur saam met hulle en vir hulle te bid.

 

Sidebar