WêRELDGEMEENSKAP VAN GEREFORMEERDE KERKE (WORLD COMMUNION OF REFORMED CHURCHES)

WÊRELDGEMEENSKAP VAN GEREFORMEERDE KERKE (WORLD COMMUNION OF REFORMED CHURCHES). Die geskiedenis van hierdie ekumeniese* liggaam, die oudste in die gereformeerd*-presbiteriaanse* wêreld, begin in 1875 met die totstandkoming van die Alliance of the Reformed Churches Throughout the World Holding the Presbyterian System deur 21 teenwoordige kerke. Tydens die eerste algemene konferensie in Edinburgh, 1877, was daar reeds 49 lidkerke verteenwoordig – hoofsaaklik van die Engelssprekende wêreld. Een van die kerke wat tóé reeds toegelaar is as lid, was die NG Kerk*.

In 1874 is die behoefte aan ’n ander ekumeniese beweging in die reformatoriese tradisie geopper. Die Kongregasionalistiese* kerke wou sinvol met mekaar in verbinding wees. Dié behoefte lei tot die stigting van die International Congregational Council (ICC) met sy eerste vergadering in Londen, 1891. Vanaf 1956 was die Alliance en die ICC met mekaar in gesprek oor ’n gesamentlike pad. Dit lei tot ’n verenigende algemene vergadering in 1970 in Nairobi, Kenia, waar die World Alliance of Reformed Churches (Presbyterian and Congregational), afgekort WARC, tot stand kom.

Drie geskiedkundige vergaderings van die WARC, of Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK), was dié te Ottawa (1982), waar die NG Kerk en die Ned Herv Kerk* se lidmaatskap opgeskort is as gevolg van die status confessionis (“staat van belydenis”) ten opsigte van apartheid*; dié te Debrecen (1997), waar besluit is om die NG Kerk weer toe te laat indien alle begronding en vorme van apartheid verwerp word, en dié te Accra (2000) waar die invloedryke Accra-deklarasie aanvaar is as pleidooi vir geregtigheid* in die ekonomie en ekologie*.

In 2006 het onderhandelinge tussen die WBGK en die Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER)* – wat in 1946 tot stand gekom het met die Geref Kerke in SA* en die NG Kerk as van die stigterslede – oor ’n gesamentlike pad begin. Dié twee liggame word in 2010 één tydens ’n verenigende algemene konferensie in Grand Rapids, VSA. Die verenigde Wêreldgemeenskap van Geref Kerke verteenwoordig ongeveer 80 miljoen Christene van 229 lidkerke in 108 lande. (Kyk ook by: Ekumene en die NG Kerk.)

 

 

Sidebar