WÊRELDSENDING

WÊRELDSENDING dui op die wêreldwye sending*visie van Jesus* Christus* waarvan die grense die uithoeke of eindes van die aarde is (Matt 28:19-20). Wêreldsending sluit alle lande en mensegroepe in aan wie die evangelie*boodskap van Jesus Christus gebring moet word.

’n Aantal wêreldkonferensies soos Lau­sanne en Amsterdam 2000 en Edinburgh en Lausanne 2010, die AD 2000-beweging en die Love South Africa (LSA) in die 1990’s, het die proses van wêreldsending aansienlik versnel. Die belangrike kenmerke van die proses in die laat 20ste eeu was die fokus op die sg onbereikte volksgroepe waar wetenskaplike inlig­ting ’n duidelike profiel van die groep bied. Die omvattende data wat gepu­b­liseer is, het die groter prentjie duideliker na vore gebring en ’n belangrike by­drae gelewer om die vordering van wêreldsending oor die afgelope 2 000 jaar duidelik uit te spel. Dit was ’n katalisator met die oog op die onafgehandelde sendingtaak. In hierdie tyd ont­staan die begrip van die tien-veertig venster: tien grade tot veertig grade noord van die ewenaar – die gebied van noordwes Afrika af tot by Japan – waar die grootste konsentrasie van “onbereikte volksgroepe” geleë is.

Die jongste jare word gekenmerk deur ’n versnelling van die proses van wêreldsending deur die uitbreiding van die getal voltydse werkkragte, die gebruikmaking van tegniese hulpmiddels soos die filmbe­dryf (Jesus-Film), die elektroniese bedryf (televisie, rekenaar, internet, DVD, CD rom, selfone) en die drukkersbedryf.

In 1792, die tyd van die vader van die mo­derne sendingbeweging, William Carey*, was sewe uit elke 1 000 Protestante* uit Afrika* of Asië afkomstig. In 1992 styg die syfer na 580 uit elke 1 000. Hierdie statistiek is ’n duidelike aanduiding van ’n geweldige paradigmaskuif in die proses van wêreldsending. Operation World verklaar hieroor: “… though Christianity’s percentage in the world population has changed little (in the past century), the proportions between the Majority World and the West/North have changed dramatically. This is praiseworthy, as hundreds of millions heard the good news for the first time in the past century. It is also an indication that the missionary efforts of the past 200 years have borne incredible fruit, though at times it was slow in coming. Years and generations of prayer and faithful service to the unevangelized world by both missionaries and indigenous Christians have not been in vain” (Operation World, 2010 – sien ook Vir verdere lees). (Kyk ook by: Statistiek.)

Vir verdere lees: Patrick Johnstone 1998. The Church is Bigger than you Think. Ernst van der Walt (1995). Word ’n wêreldchristen. Wellington: Bybelkor. Jason Mandryk (red) 2010. Operation World. The Definitive Prayer Guide to Every Nation. Colorado Springs: Biblica Publishing.

Sidebar