WERKVERSKAFFING

WERKVERSKAFFING. Om te werk, is ’n basiese mensereg (Kyk by: Menseregte). In die Bybel* word werk geassosieer met grond. In ’n landbou-georiënteerde wêreld is dit elkeen se reg om grond te besit. Grond­besit is gekoppel aan families. Op­een­volgende geslagte bewerk hulle erfgrond sodat hulle kan lewe. Slawe* was mense sonder grond wat in ander se diens moes staan. Die Israeliete* se geskiedenis is ’n goeie illustrasie van watter rol grondbesit gespeel het. Die verhaal van Nabot* se wingerd in 1 Kon 21 illustreer dié beginsel dramaties. Selfs nie ’n koning het die reg gehad om iemand se grond van hom weg te vat nie. Jou grond is jou werk is jou lewe.

In Suid-Afrika leef ons in die spanning van oorgangstye waar die “reënboognasie” se mense sterk bande met (erf)grond het. Die samelewing het egter intussen begin ver­stedelik en is geïndustrialiseer en is tans besig om in die inligtingsera in te beweeg. Ekonomiese en werkverskaffings-spelreëls verander dramaties. Werkloosheid het in die eerste tien jaar ná die eerste demokra­tiese verkiesing in Suid-Afrika (1994) met meer as 10% toegeneem. Die 2000-sensus rap­porteer 33,7% het werk, 24% is werkloos en 42,3% van die bevolking is nie eko­no­mies aktief nie (vroue, kinders, studente, oumense), en dié syfers het nie sedertdien enigsins verbeter nie. Arbeidstatistiek van die bevol­king tussen 15 en 65 klassifiseer 31,2% as werkloos. Dit beteken ernstige armoede* en verklaar deels die omvang van die vigs-epidemie. Dit is ’n globale probleem. 54% van die bevolking in Afrika lewe in absolute armoede (inkomste onder VSA$1 per dag). Wêreldwyd was dié persentasie in 1995 33%. Die globale ekonomie veroorsaak hierdie inkrimping in werkverskaffing met die ge­paardgaande groei in die persentasie mense wat in absolute ellende leef. Een van die grootste etiese uitdagings waarvoor die Christendom* (en dus kerk en samelewing) staan, is ongetwyfeld werk­verskaffing. Terwyl ’n mens se menswaardigheid nie bepaal word deur die vraag of jy werk het of nie werk het nie, is dit ook waar dat, as jy nie werk het nie, dit implikasies vir (onder meer) jou selfbeeld het wat ’n rol speel in haas al die verhoudings waarin jy staan. (Kyk ook: Werk en werkloosheid; Grondhervor­ming.)

Vir verdere lees: W Brueggemann 1977. The Land. Philadelphia: Fortress.

 

Sidebar