WESLEY, CHARLES

WESLEY, CHARLES (1707–1788) is be­kend as skrywer van geestelike liedere en is die broer van John Wesley*, die Metodis*. Hy was by Westminister College op skool waar sy oudste broer, Samuel, een van die onderwysers was en daarna het hy by Christ College, Oxford, studeer. Terwyl hy daar studeer het, was hy een van die stigters van die “Holy Club” waarvan sy broer, John, ook ’n lid was. Hy is in 1735 saam met John Amerika toe waar hy ’n rukkie in Alabama gewerk het. In 1738, terug in Engeland, het hy tot bekering* gekom en as prediker opgetree. Van 1738 af het hy gesange wat op die Skrif* gebaseer is, geskryf. Van sy gesangbundels is Hymns and Sacred Poems (1739 en 1749), Hymns and God’s Everlasting Love (1741), Hymns and Sacred Poems (1742), en Sacred Hymns (1762). Hy het, soos sy broer, wyd in Engeland gepreek. Sy gesange is sy grootse erflating aan die Christendom*. In Afrikaans* is sy “Jesus roep die kindertjies” (Lied 294, Liedboek van die kerk), “‘God is liefde!’ juig ons harte” (Lied 334), “Hoor die blye eng’lelied” (Lied 365), “Juig verlostes, juig en sing” (Lied 414), “Kyk, die Heer het opgestaan” (Lied 425) en “Jesus wat my liefhet, Heer” (Lied 578) geliefd. Hy is in Londen oorlede.

Vir verdere lees: C Idle (red) 2003. The Journal of John Wesley. Oxford: Lions Pu­blishing. S Kimbrough 1988. “Charles Wes­ley as a Biblical Interpreter”, in: Methodist History 26:3. G Lean 1964. John Wesley, Anglican. Londen: Blanford Press.

 

Sidebar