WESLEY, JOHN BENJAMIN

WESLEY, JOHN BENJAMIN (1703– 1791), ’n 18de-eeuse teoloog en prediker, is saam met sy broer, Charles Wesley*, en George Whitefield* die grondleggers van die metodistebeweging (Kyk by: Metodisme), die eerste groot evangeliese/evangelikaalse beweging in die Verenig­de Koninkryk (Kyk ook: Evangelikale beweging).

Wesley sluit saam met Charles Wesley en George Whitefield aan by die Holy Club, waar klublede streng metodiese godsdiens­tige praktyke handhaaf, wat insluit tronk- en siekebesoeke. Hulle word spottenderwys “metodiste” genoem.

John en Charles Wesley word georden as Anglikaanse predikante, en beleef in 1738, ná ’n mislukte sending*besoek aan Noord-Amerika, ’n beslissende bekering*. In 1739 begin hulle met opwekkingsdienste in die buitelug, wat lei tot ’n herlewing in Enge­land. In dieselfde jaar stig John Wesley die metodistebeweging in Londen.

Wesley is sy lewe lank besorg oor die intellektuele, ekonomiese en fisieke welsyn van die massas, en skryf boeke wat bekos­tig­baar is vir almal. Hy is ’n teenstander van slawerny*, en staan hervormingsbewegings voor. Hy stel 23 versamelings van gesange saam, doen Bybel*vertalings, en is die redakteur van ’n maandelikse kerktydskrif.

Wesley wou nie kerkskeuring veroorsaak nie en het ’n lid van die Anglikaanse Kerk* gebly maar probeer die leerstellige fokus van dié kerk verskuif. Die Metodistekerk* word eers in 1791, ná die broers se dood, ’n selfstandige kerk in Engeland

Sidebar