WESSELS, GERHARDUS RENIER (GERRIE)

WESSELS, GERHARDUS RENIER (GERRIE) (1912–1998) betree die bedie­ning in die Apostoliese Geloofsending (AGS)* op die jeugdige ouderdom van 18 jaar. Hy word in Maart 1937 in die kerk se uitvoerende raad verkies en doen baanbrekerswerk op verskillende terreine. Hy speel jare lank ’n leidende rol in die nasio­nale jeugwerk. In 1938 begin hy met die AGS se eerste kinderhuis in ’n private woning en bou later ’n kinderhuis vir 200 kinders op Maranathapark in Lyndhurst. Hy vestig ook ’n dinamiese vroue-welsynsbeweging, ge­naamd “Dorkas”, op nasionale vlak sowel as in elke plaaslike gemeente. Baie jare lank was hy direkteur van die welsynsdepartement van die kerk. Hy was in 1950 verantwoor­delik vir die eerste AGS-huis vir bejaardes. In April 1943 word hy op dertigjarige ouderdom as vise-president van die kerk gekies, en dien in dié hoedanigheid tot in 1970 toe hy die bediening vir die heeltydse politiek verruil het. Sy oratoriese gawe was feitlik legendaries in die kerk. Dit was veral sy preke en toesprake oor die gevaar van kommunisme* in die vroeë 1950’s wat die oog van die Nasionale Party gevang het en hy is genader om senator te word. Sy party-politieke betrokkenheid was drie jaar later ’n bydraende faktor tot ’n kerkskeuring in die AGS en die ontstaan van die Pinkster Protestante Kerk*

Sidebar