WEST, GERALD OAKLEY

WEST, GERALD OAKLEY (1956-) het aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad en aan die Teologiese Kollege in Johannesburg studeer voordat hy sy MA- en PhD-studies aan die Universiteit van Sheffield in Engeland voltooi het. Hy het in Bybelwetenskap gepromoveer met ’n proefskrif getiteld: “Biblical Interpretation in Theologies of Liberation: Modes of Reading the Bible in the South African Context of Liberation”.

Sedert 1999 is West ’n professor aan die Universiteit van Kwazulu-Natal, Pietermaritsburg. Hy word nasionaal en internasionaal gereken as ’n toonaangewende akademikus binne die studieveld van Afrika*-Bybelwetenskappe. Hy maak gebruik van interdissiplinêre navorsingsmetodes in vier verwante areas: Afrika- en ander vorme van bevrydingshermeneutiek (Kyk by: Bevrydingsteologie; Hermeneutiek); die historiese en hermeneutiese dimensies van Afrika-Bybel-interpretasie; die skakeling tussen die akademie en die gemeenskap in Bybelse toepassings, en die rol van godsdiens* in die publieke sfeer ná bevryding. Sy werk is wyd gepubliseer en hy tree gereeld nasionaal en internasionaal as spreker op. Hy dien onder meer in die Raad van die Society of Biblical Literature – die eerste Afrikaan wat dié eer te beurt geval het.

West het sedert 1989 ’n groot rol gespeel in die ontstaan en ontwikkeling van die Ujamaa-sentrum vir Gemeenskaps-ontwikkeling en –navorsing. Hierdie sentrum het oor die jare gehelp met die verkryging van eksterne befondsing vir gemeenskapsontwikkeling en navorsingswerk, en het reeds ’n noemenswaardige bydrae gelewer tot leer en onderrig. Hoewel West in 2012 die leisels van die sentrum oorgegee het aan ’n nuwe generasie Afrika-leiers, was hy ook daarná steeds betrokke by die werk van die sentrum

 

 

Sidebar