WESTERMANN, CLAUS

WESTERMANN, CLAUS (1909–2000) is in Berlyn gebore as die seun van ’n professor in Afrikanistiek en hy studeer teologie* tydens die opkoms van nasionaal-sosialis­me*. As Duitse oorlogsgevangene het hy, met net die vertaling van Psalms* tot sy beskikking, baanbrekende navorsing oor klag en lof in Psalms gedoen. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog* promoveer hy in Zürich oor die lof aan God in Psalms en word hy in Berlyn as dosent aangestel. Van­af 1958 tot en met sy aftrede was hy professor aan die Universiteit van Heidelberg en die kollega van beroemde Ou-Testamentici soos G von Rad*, HW Wolff en R Rendtorff.

Westermann kan gesien word as die opvolger van Hermann Gunkel* – nie net na aanleiding van sy klem op die vormkritiek (vgl sy vormkritiese ondersoek van Job*) nie, maar ook wat sy lewenslange belangstelling in Genesis* (etlike kommen­tare) en Psalms (verskeie wetenskaplike en populêre kommentare) betref. Sy monu­men­tale kommentaar op Genesis sal moeilik in die toekoms geëwenaar kan word in terme van aandag aan die teks en die Ou-Nabye-Oosterse konteks. Behalwe vir sy aanvanklike belangstelling in Psalms, doen hy ook navorsing oor profetiese literatuur in die Ou Testament* (profetiese heilsorakels en ’n kommentaar op Deutero-Jesaja*) en die Israelitiese wysheid (ondersoek na die wortels van die wysheid en ’n vergelyking met wysheid en spreuke uit Afrika*, waarvan sy pa ’n kenner was). Sy teologie van die Ou Testament behels ’n deurlopende samehang tussen heilsgeskiedenis* en God se seënende teenwoordigheid in die skepping*.

 

Sidebar