WET VAN GOD

WET VAN GOD. Die verskillende ma­niere waarop die wet van God verstaan is, het groot gevolge vir kerk* en teologie* gehad. Die groot klem, enersyds, op die wet as abstrakte voorskrifte vir ons lewe, het mees­tal die evangelie* en genade* oorska­du in ’n strak wettisisme (onderhouding van die wet tot op die letter), waarby die Wet­gewer agter die wet verdwyn saam met die persoonlik-geestelike element daarvan. An­der­syds was daar altyd anti-wettiese stromings wat genade en vryheid so sterk be­klemtoon het, dat die wet geheel verdwyn en die mens self sentraal staan in sedelike beslissings. Probleme begin dikwels wanneer wet en evangelie téénoor mekaar ge­stel word in plaas daarvan dat beide gesien word as gestaltes van God se voortgaande heil*.

In die Ou Testament* is die wet uitdruk­king van hoe die volk Israel* eties en kulties moes leef in ’n heidenwêreld. Die agtergrond daarvan is egter die genadeverbond*: God red hulle éérs uit Egipte* en gee dán die wet. Die genadeverbond (Eks 19) gaan vooraf aan die wet (Eks 20) – die wet lê in die ark* ónder die versoeningsbloed op die deksel.

In die Nuwe Testament* is Jesus* die doel en vervulling van die wet, die volle be­te­kenis daarvan. Vir Jesus omvat die liefdesgebod* die hele wet. Paulus wys in Romeine* en Galasiërs* wettisisme sterk af: In geen omstandighede kan wetsonderhouding die voorwaarde vir heil word nie – dán word die wet ’n vloek, juis dit waarvan Christus ons verlos. Daarom het ons verlos­sing ’n absolute genadekarakter (Rom 3) en juis daarom het ons heilsekerheid, want oor ons eie werke sal ons altyd twyfel (Rom 4–5). Op sigself is die wet goed en heilig en regverdig (Rom 7) – die probleem is ons misbruik daarvan om onsself deur ons werke (werkheiligheid) te probeer red. En dan is dit so goed of Christus glad nie ge­sterf het nie.

Die vertrekpunt is altyd God se liefde* en genade, die nuwe skepping* wat Hy deur Christus tot stand bring, en die vernuwing deur die Heilige Gees* – nié die wetsonderhouding van die mens nie. Maar as ons eenmaal die genade in Christus deelagtig geword het, dán eers kom die wet in die spel as reël van dankbaarheid*. Dan skryf die Heilige Gees dit op ons harte, sodat ons dit “van harte” ook doen, nie as iets anders of bykomend tot die liefde nie, maar juis as die gestalte van die liefde wat sigbaar word as die vrug* van die Gees (Gal 5). Tradisio­neel was daar naas die wet as reël van dankbaarheid, in die teologie ook verwys na die sonde-onthullende funksie daarvan, en die nut wat dit het vir die burgerlike orde.

Sidebar