WETENSKAP EN TEOLOGIE / GODS­­DIENS

WETENSKAP EN TEOLOGIE / GODS­­DIENS. Die dialoog tussen teologie* en natuurwetenskap het gedurende die afgelope paar dekades tot een van die be­langrikste diskoerse van ons tyd ontwikkel en hou direk verband met die groeiende oortuiging dat Christelike teologie per definisie as “publieke teologie” gesien moet word. “Teologie en wetenskap” gaan dus van die vertrekpunt uit dat ons werklikheid – kuns, kultuur*, politiek, etiek*, tegnologie, natuurwetenskap – eers omvattend verstaan word wanneer ons dit teologies direk in verband bring met God as die Skepper van hierdie werklikheid. Die gesprek tussen teologie en wetenskap is toenemend deel van die breër “godsdiens* en wetenskap”-dialoog, waar spesifiek gefokus word op die vraag na die verhouding tussen moderne wetenskap en die verskillende wêreldgodsdienste.

Die intense belangstelling in “teologie en wetenskap” vind vandag populêr neerslag in die media oor kwessies soos kosmologie* en die ontstaan van die heelal, evolusie* en geloof*, en ’n komplekse reeks genetiese en etiese probleme wat ook die Christelike geloof* direk betrek. ’n Regstreekse gevolg van hierdie groeiende belangstelling is ook waarneembaar in die ontstaan van akade­miese leerstoele in Teologie en Wetenskap aan prominente universiteite en teologiese seminariums wêreldwyd. Kursusse in teologie en wetenskap word internasionaal aan ’n groot aantal opvoedkundige inrigtings gedoseer. In verskeie lande, soos die Vere­nigde State van Amerika, die Verenigde Ko­ninkryk, feitlik alle Europese lande, sowel as in Suid-Afrika, bestaan daar verenigings vir teologie en wetenskap, asook permanente sentrums of programme vir teologie en wetenskap. Dié nuwe studieveld het ook gelei tot die stigting van verskeie gespesialiseerde internasionaal-erkende tydskrif­te, asook onlangs tot die stigting van die Internasionale Vereniging vir die Studie van Wetenskap en Godsdiens. Organisasies soos die Metanexus Institute en die Templeton* Foundation het aan “teologie en wetenskap” ook ’n indrukwekkende wêreldwye teenwoordigheid op die internet besorg.

Een van die grootste uitdagings van die “teologie en wetenskap”-debat is dat dit die eietydse teologie die geleentheid bied om direk in gesprek te tree met die wetenskap en wetenskapsfilosofie in die algemeen, maar in besonder met die menswetenskappe, die filosofie, die kognitiewe wetenskap, neurowetenskap, rekenaarwetenskap en inligtingstegnologie, die fisiese wetenskappe en kosmologie, ekologie*, etiek* en waardeteorie, evolusionêre biologie, genetika, wiskunde, die mediese wetenskap, biologie, argeologie*, paleoantropologie en die antropologiese wetenskappe, asook met feministiese bydraes tot talle van hierdie studievelde. Skouspelagtige vordering in feitlik al hierdie navorsingsvelde verteenwoordig ’n besondere uitdaging aan die teologie, maar ook aan die kern van godsdienstige geloof, omdat die wetenskappe dikwels nog (skynbare) alternatiewe ant­woorde op lewensvrae probeer gee. Verder verteenwoordig wetenskappe so uiteenlopend soos die neurowetenskappe, ekologie en biotegnologie vandag ’n spesiale uitdaging op die vraag na die betekenis van mens-wees, die lewe ná die dood, en ook na die toekoms van ons tuiste op planeet Aarde en in die kosmos (Kyk ook: Planete). Op dieselfde manier verteenwoordig chaosteorie, kwantummeganika en die omvattende rol van kans en kontingensie in biologiese sisteme dikwels ’n direkte uitdaging aan Christelike idees oor God en God se handeling en voorsienigheid in die wêreld. Die huidige teologie en wetenskap-dialoog bied daarom ’n uitstekende geleent­heid vir die teologie om te wys dat materialistiese en reduksionistiese verklarings vir nie-empiriese vrae en probleme onvoldoende is. Teologie en wetenskap verteenwoordig dus in werklikheid komplementêre perspektiewe op die verskillende aspekte van die wêreld wat vir ons deur menslike kennis toeganklik is.

 

Sidebar