WHITEFIELD, GEORGE

WHITEFIELD, GEORGE (1714–1770) is in Gloucester gebore. Hy was ’n kennis van John* en Charles* Wesley* uit hulle studen­tedae aan die Universiteit van Oxford, en het ’n beduidende rol gespeel in die Evan­geliese Herlewing in die Verenigde Konin­kryk en die sg “Great Awake­ning” in die Verenigde State. Albei bewe­gings was daarop gemik om die kerk* tot nuwe lewe te wek. Anders as Wesley, wat ’n Arminiaan (Kyk by: Arminius, Jakob) was, was Whitefield ’n Angli­kaan*, ’n aanhanger van ’n sterk Calvinis­tiese uitverkiesingsleer* wat verkondig dat verkiesing “die siel uit sy vleeslike sekuriteit ruk”; die Arminianisme, daarenteen, laat vaar die sentrale idee van God se almag. Whitefield het ’n piëtistiese* spiritualiteit* gehad. In 1738 is hy Georgia toe om direkteur van die weeshuis in Bethesda te word. In Amerika kon hy daarin slaag om die verskillende stromings van die herlewingsbeweging te verenig sodat dit alle grense oorsteek het. By sy terugkeer in Engeland het hy ’n gewilde, welsprekende en kragtige prediker geword wat nie bang was om te eksperimenteer nie; hy was ook die pionier van opelugprediking. Sy werk het verder gestrek as dit wat tradisionele, staatsondersteunde kerke gedoen het. As die beskerm­ling van Selina, die gravin van Huntingdon, was hy in staat om ’n tabernakelkerk in Londen op te rig. Sy metode om herlewing te bewerkstellig was emosioneel, nie-denominasioneel, internasionaal en op bele­wing gebaseer.

Sidebar