WIL VAN GOD

WIL VAN GOD. Die gedagte dat ’n mens se lewe op aarde deur ’n hoër mag beheers word, is nie tot die Christendom* beperk nie. Reeds in die antieke Griekeland, maar ook nog in die Hellenisties-Stoïsynse (Kyk: Hellenisme; Stoïsisme) filosofie wat in die tyd van die Nuwe Testament* steeds ’n rol gespeel het, word die oortuiging aangetref dat die menslike lewe aan onweerstaanbare noodlotsmagte uitgelewer is. Teenoor sulke magte is die enigste sinvolle reaksie dié van berusting.

Van so ’n religieuse fatalisme* was die Christelike* voorstelling van die wil van God van die begin af ver verwyderd. Dat dit die geval was, hou verband met die Bybelse* Godsbegrip waarvolgens God geen onpersoonlike noodlotsmag is waaraan die mens willoos onderworpe is nie, maar ’n persoonlike wese wat beide as almagtige God en liefdevolle Vader tot sy mensekinders in verhouding staan.

Omdat die Christelike geloof* van die begin af en oor die eeue heen steeds weer teenoor die telkens heersende filosofiese oortuigings verantwoord moes word, was die voorstelling van die wil van God dikwels die voorwerp van wysgerige spekulasie. In hierdie verband word daar, bv, gesê dat die wyse waarop God Homself wil, verskil van die wyse waarop Hy die wêreld wil. Die wêreld is daarom nie ’n uitvloeisel uit sy wese nie – dit sou panteïsme impliseer – maar die voorwerp van ’n skeppingsdaad deur God. Daar is verder ook geen dieper oorsaak agter die wil van God nie. Daarmee word bedoel dat die wil van God as een met sy wese geen oorsaak agter of bo Homself sou hê waarvan sy wil afhanklik sou wees nie. Daarmee is egter nie gesê dat die wil van God sonder redelikheid en dus blind en willekeurig is nie. Die wil van God is met sy wysheid en goedheid één. Daarom kan ’n mens dit met hoof en hart aanvaar.

Wysgerige spekulasie het veral ook ingetree wanneer verduidelik moes word hoe die wil van God te rym is met die kwaad of boosheid wat in die wêreld aanwesig is. Dit is tog ondenkbaar dat die kwade op dieselfde manier die voorwerp van God se wil kan wees as wat met die goeie die geval is. Om verder te sê dat God die kwade bloot toegelaat het, sou egter van Hom ’n magtelose toeskouer maak. Daarom word gesê dat, hoewel Hy die kwade nie wil nie, Hy in sy verborge wil tog daarvoor ruimte gemaak het.

Die Bybelse spraakgebruik vermy so ’n abstrakte en formele manier van praat en lê meer klem op die inhoud van God se wil. Die Ou-Testamentiese* mens sien die wil van God in die skepping* verwesenlik asook in die geskiedenis van Israel* en met name in die gawe van die Wet* van God. Opvallend is dat die gebiedende woord van die Here* as instrument van sy wil telkens hier ’n belangrike rol speel. (Kyk Ps 33:6 en 9; Eks 20:1.)

Ook die Nuwe Testament* bring die skepping met die wil van God in verband (Op 4:11). Veel opvallender egter is die feit dat die Nuwe Testament die wil van God as heilswil beklemtoon. So, bv, verbind Matteus* die gedagte van die wil van God pertinent met die Vadernaam van God. (Kyk Matt 6:10; 7:21; 12:50 en 18:14.) Die wil van God word hier nie as ’n abstrakte werklikheid voorgehou nie, maar eksplisiet as die wil van die Vader vir wie die heil* van sy kinders Hom ter harte gaan. Die heilswil van God het ’n universele en selfs kosmiese gerigtheid. God wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom (1 Tim 2:4). En volgens die Efesebrief* moet alles in die hemel* en op die aarde* in hierdie heil deel (Ef 1:9, 10). In die Nuwe Testament kry die voorstelling van die wil van God dus ’n soteriologies- (leer van die verlossing deur Christus* as Saligmaker) eskatologiese (leer van die laaste dinge – die wederkoms* van Christus) vulling.

Wie erns maak met wat die wil van God werklik is, begryp dat die derde bede van die Onse Vader-gebed die mees geskikte vorm is waarin ’n mens dit ter sprake kan bring: Nie in ’n spekulatiewe beskouing daaroor nie, maar in ’n vrymoedige instemming daarmee. Die wil van God is dit waarin Hy ’n welbehae het: Dit wat Hy in elk geval doen en dit wat Hy van die mens verwag om te doen. Tradisioneel is na hierdie twee elemente onderskeidelik verwys as die voorsienigheidswil en die morele wil van God.

 

 

 

Sidebar