WILBERFORCE, WILLIAM

WILBERFORCE, WILLIAM (1759–1833) is in Hull, Yorkshire, gebore en het ge­studeer aan St John’s College in Cambridge, waar hy bevriend geraak het met William Pitt jr, die latere Engelse eerste minister. Hy het behoort aan die Anglikaanse* Evange­liese Clampham-groep, wat daarop gerig was om hulle toewyding as Christene uit te leef deur sosiale en sending*aksies te steun. Wilberforce, wat dit in ’n stadium oorweeg het om priester*2 te word, het ’n invloed­ryke lid van die parlement geword asook van die komitee wat in 1787 gestig is om die afskaffing van slawe*handel te bewerkstellig. Nadat slawehandel in 1807 verbied is, het hy hom toegelê op die afskaffing van slawerny; dit is bereik in 1833, net voor sy dood. Die Evangeliese Party het Wilberforce se A Practical View of the Prevailing Reli­gious Systems as ’n gesaghebbende manifes in hierdie stryd gebruik. Hy was ook betrokke by die stigting van die Kerk van Engeland* se Kerklike Sendinggenootskap, en van die Britse en Buitelandse Bybel­ge­noot­skap*. Hy het ’n rol gespeel in die hernuwing van die Oos-Indiese Kompanjie (VOC*) se oktrooi in 1813, waar hy die ge­dagte gesteun het om sendelinge* na Indië te stuur. Hy het die kolonie vir vrygestelde slawe in Sierra Leone ondersteun en ’n kapelaan* voorsien vir die eerste gevangenes wat Australië toe gestuur is.

 

Sidebar