WILKINSON, BRUCE

WILKINSON, BRUCE (1940–) is die skrywer van verskeie topverkoper-boeke, onder meer oor die gebed van Jabes* (1 Kron 4:10). Hy het aan die Northeastern Bible College, Dallas Theolo­gical Seminary en die Western Conservative Baptist Seminary studeer. Wilkinson het bekendheid verwerf met sy projek Walk Thru the Bible, ’n interkerklike Christelike organisa­sie wat seminare regoor die wêreld aanbied. Dit is egter sy boek oor die gebed van Jabes wat in talle tale vertaal is, wat Wilkinson se naam internasionaal bekend gemaak het. Daar is meer as 22 miljoen kopieë van Wilkinson se boek oor dié gebed verkoop. Die boek het ’n redelik onbekende gebed in die Ou Testament* meteens wyd onder die aandag gebring, maar die “voorspoedteologie”* wat in Wilkinson se verduideliking van die gebed na vore kom, is sterk gekritiseer.

In 2002 het Wilkinson die wêreld verras toe hy aangekondig het dat hy Afrika sy tuiste gaan maak. Hy en sy gesin vestig hulle in Suid-Afrika en hy het beplan om in Swaziland ’n tuiste vir duisende vigswesies te skep. Sy “Dream for Africa”-droom spat egter aan skerwe toe koning Mswati van Swaziland nie sy voorwaardes vir die projek wou aanvaar nie. Teen die einde van 2005 het hy en sy gesin teruggekeer na Amerika.

Sidebar