WILLEM VAN OCKHAM (OCCAM)

WILLEM VAN OCKHAM (OCCAM) (circa 1288–1348), ’n Franciskaanse monnik* van Engeland, het sy lewe aan die uiterste armoede gewy. Hy word as een van die groot denkers van die Middeleeue beskou. Johannes XXII was in daardie tyd pous* – ’n finansiële reus wat die Vatikaan* uit geldelike moeilikheid gered het en ná ’n amps­tyd van 18 jaar 30 miljoen klinkende munt nagelaat het. Dit is dus te verstaan dat Willem en die pous nie aan dieselfde tafel gesit het nie. Die pous het die diepste afkeer van Willem en sy leerstellings gehad. In 1324 het die pous hom na Avignon ontbied op ’n klag van kettery*. Daar is hy in huisarres geplaas terwyl die saak ondersoek is. Dit is egter ook moontlik dat hy in Avignon klas gegee het en dat hy en die volgelinge van Thomas van Aquino* (wat pas die vorige jaar deur die pous heilig verklaar is) nie goed klaargekom het nie. Die Franciskaanse leerstuk van apostoliese armoede het tot ’n hewige debat in kerklike kringe gelei. Voordat die saak afgehandel is, het Willem gevlug en by keiser Louis IV van Beiere (Duitsland) asiel gekry. Die vraag oor die leerstuk van armoede is nooit hanteer nie.

Sidebar