WILLIAMS, LYDIA

WILLIAMS, LYDIA (1820–1910) is ’n Kaapse slawe­vrou (Kyk by: Slawerny) uit die 19de eeu. Ná die vrystelling van die slawe in 1834 het die Engelse koloniale regering ’n nuwe slenterslag bedink. Slawe is nie onmiddellik vrygelaat nie, maar moes ’n bykomende vier jaar ver­plig­te “vakleerlingskap” doen, sodat hulle vir alle praktiese doeleindes steeds slawe gebly het.

Williams was 14 toe slawerny formeel opgehef is. Op 18 kom sy aan die einde van haar “vakleerlingskap” en begin ’n lewe van toewyding aan die geestelike heling van haar medeslawe. In haar gehuurde enkelkamerhuisie op die Anglikaanse kerkgrond in Zonnebloem in Distrik Ses hou sy bidure en Bybel*studie en doen sy berading om slawe te help om uit die ruïnes van hulle slaweverlede en die trauma van hulle nuwe, maar steeds onsekere, hede, ’n menswaardige lewe te vind.

In 1929 bou die Anglikaanse Kerk* die Lydia-skool op die perseel van haar huisie in die St Phillips-gemeente, maar dit word deur die stootskrapers van apartheid* platgestoot toe Distrik Ses met die grond gelyk­gemaak is. Aan haar het ons die “Fees van die Vrystelling van die Slawe” op 1 Desem­ber te danke.

 

Sidebar