WINTER, RALPH

WINTER, RALPH (1924–) is ’n Presbite­riaanse* missioloog (sending*kundige) wat sy sendingloopbaan begin het met ’n dienstydperk van dertien jaar (1953–1966) in Guatemala, waar hy onder andere meegewerk het aan die ontwikkeling van Theological Education by Extension* (TEE). Hy het in 1966 teruggekeer na die VSA en ’n sleutelfiguur geword in evangelical-kringe (kyk by: Evangelika­liese beweging*). Hy was medeverant­woordelik vir die vestiging van die School for World Mission (by die Fuller Theological Seminary), William Carey Library-uitgewers (1969), American Society of Missiology (1972), Frontier Mission Fellowship (1976), US Center for World Mission (1976), William Carey International University (1977) en International Society for Frontier Missio­logy (1985). In 2005 is hy deur Time Magazine uitgewys as een van die 25 mees invloedryke evangelikale in die VSA. Sy sentrale klem is om strukture en prosesse daar te stel wat die wêreld se onbereikte groepe (“unreached peoples”) met die evangelie* kan bereik. Winter is wyd bekend vir die kursusprogram Perspectives on the World Christian Movement, waaraan hy meege­werk het en wat al meer as 38 000 alumni in die VSA en Kanada opgelewer het.

 

Sidebar