WOESTYNTOG

WOESTYNTOG het betrekking op die tydperk tussen die Israeliete* se uittog* uit Egipte* en die intog in die beloofde land. Die beskrywing daarvan word gevind in Eks 15:22–17:15 en Num 10:33–22:1; 33:1-49. Hierdie woestyntog speel veral rondom Sinai*2 af, en dit is die verbasende feit dat die woestyntog byna 40 jaar geduur het wat die indruk help skep het dat dit hier eer­der gaan oor ’n rondswerwery in die wildernis as oor ’n gedissiplineerde mars op pad na die beloofde land.

Daar is drie teologiese temas wat met die woestyntog in verband staan:

  1. Dit is juis by Sinai in die wildernis dat die verbond* tussen God en sy volk gesluit word. Die woestyntyd word deur latere profete geïdealiseer as die tydperk van verbondstrou (Jer 2:2).
  2. Dit was ook tydens die woestyntog dat die Here* op verskillende maniere voorsiening in die volk se behoeftes gemaak het. God het Israel tydens die woestyntog bedags gelei deur die wolkkolom en snags aan die hand van die vuurkolom. Met manna* en kwartels is kos gegee en water is selfs uit rotse beskikbaar gestel (Deut 8:16; Hos 13:5-6).
  3. Die woestyntog word veral as die tyd en die medium van oordeel of straf gesien. Met die aankondiging dat net Josua* en Kaleb* van dié wat Egipte verlaat het, die beloofde land sal binnegaan, word die woestyntog ’n meganisme om God sy oordeel oor sy volk te laat voltrek (Num 14:22-23, 29, 32, 35; Jos 5:6; Ps 95:8-11).

Die woestyntog is positief gesien as die plek van die Here se ontferming en voorsiening vir die volk, en negatief as die tyd van oordeel en straf.

Sidebar