WONDERS

WONDERS. Die Bybel* bevat baie wonderverhale. Met ’n wonder word bedoel dat daar gebeurtenisse plaasvind wat nie oor­eenstem met die normale patroon of gang van sake nie, en ook nie maklik redelik verklaar kan word nie, maar wat dui op bo­na­tuurlike ingrype. Die Bybel ken natuur-, genesings- en opwekkingswonders en duiwel*uitdrywings (Kyk by: Demone). Reeds in die Ou Testament* vind ons wonders, veral om die uittog* uit Egipte* te laat ge­beur. Die profete* Elia* en Elisa* se bedie­ning was ook daardeur gekenmerk, hoofsaaklik om die afgodsdiens* te bestry. In die Nuwe Testament* is dit veral Jesus* wat wonders verrig. Volgens Ou-Testamentiese beloftes sou die Messias* juis hieraan geken word. Jesus se doen van wonders is nie ’n doel op sigself nie – soos dikwels in die Grieks-Romeinse wêreld gebeur het en die skares wat Jesus hieroor gevolg het, op gehoop het – maar dit funksioneer binne die raamwerk van sy prediking om die koms van die koninkryk*  van God bekend te stel. Dit dui op die deurbraak en aanbreek van die koninkryk en op die oorwinning oor die mag van die bose (Kyk by: Kwaad).

Wonders in die Bybel* laat die klem veral op die toeskouers se reaksie val, op hulle bewondering en meestal hulle vrees vir die een wat dit verrig. Vir sommige het die vermoëns van so iemand ’n magiese karakter aangeneem. Soms word dit ook “kragtige dade” genoem om die bonatuurlike karakter daarvan aan te dui, partykeer “tekens” (Kyk by: Wonderteken) omdat dit na iets of iemand anders verwys en moet dien as ’n herkenningspunt van dit wat verwag word. Wonders word ook nog “werke” genoem om daaraan te herinner dat dit gesien moet word binne die breër raam­werk van God se skeppende, reddende, herstellende en herskeppende krag. (Kyk ook: Wonderwerke van Jesus.)

 

Sidebar