WONDERTEKENS

WONDERTEKENS. Die Bybel* noem wonders* soms “tekens” en verwys daar­mee na iets met ’n dieper betekenis. Die woord “teken”, semeia in Grieks*, word veral in die Johannes*-Evangelie vir die wonderwerke van Jesus* gebruik. Die funksie van die wonders hier is nie soseer as kragtige dade om Satan* te bestraf nie. Dit is wondertekens wat hoofsaaklik bedoel is om Jesus te openbaar as die Seun* van God, Hom as die Christus* te bevestig en mense so tot geloof* in Hom te bring. Kenmerkend van die wondertekens waarvan Johannes vertel, is dat: 1. daar kennelik ’n seleksie van tekens plaasgevind het wat daarop sinspeel dat daar dalk destyds ’n dokument met wonderverhale in omloop kon gewees het; 2. daar by elke wonderteken uitvoerig kommentaar gelewer word om die simboliese betekenis daarvan toe te lig; 3. daar ’n opbou in die aanwen­ding van die wonderverhale is met die doel om aan te dui dat die opstanding* van Jesus uit die dood as die grootste wonder beskou moet word. Wondertekens dui ook op die lewe wat wag, maar wat nou reeds moontlik is en te vinde is in Hom.

 

Sidebar