WOORD VAN GOD

WOORD VAN GOD. In die Ou Testa­ment* word herhaaldelik na God se kommunikasie met sy volk verwys as die “woord van Jahwe*” of, soos dikwels vertaal, die woord van God. Dit het in meer as een vorm na die volk gekom, soos deur God se gebod*, deur die profete*, visioene (Kyk by: Gesig) en drome. In Ps 119 word “woord van God” en “gebod van die Here” as sino­nieme gebruik.

In die Nuwe Testament* praat Jesus* soms van die woord van God as Hy na die Ou Testament verwys (Mark 7:13). Meer dikwels word die frase “woord van God” (bv Hand 6:2), of soms net “die woord” (Mark 2:2; Gal 6:6), gebruik vir die boodskap van die Christelike evangelie* en die verkondiging daarvan (1 Tess 2:9, 13). In Luk 8:11 gebruik Jesus “woord van God” vir sy verduideliking van die verborgenhede van God se koninkryk*.

Later het Christene* die kanon* van die Ou en Nuwe Testament (die Bybel*) ook die Woord van God genoem. Sedert die Hervorming* word die Bybel in gerefor­meerde* kringe as enigste bron vir geloofs­kennis bely, en staan dit naas die “genade* alleen” (sola gratia) en die “geloof* alleen” (sola fidei) bekend as een van die sg solismes: sola Scriptura – “die  Skrif alleen”.

Sidebar