WREDE, GEORG FRIEDRICH EDU­ARD WILLIAM (WILLIAM)

WREDE, GEORG FRIEDRICH EDU­ARD WILLIAM (WILLIAM) (1859–1906), ’n Lutherse* pastorieseun, het na Leipzig gegaan waar konserwatiewes gewoonlik die teologie* bestudeer het en waar hy ook die invloed van Von Harnack* ondergaan het. Hy was eers pastor (1886– 1889), daarna lektor te Göttingen en professor te Breslau (1895–1900).

In 1897 vra Wrede aandag vir die taak van die “sogenaamde” Nuwe-Testamen­tie­se* teologie. Hy is in verset teen die idee dat Bybelse teologie uit dogmatiese* leerbegrippe bestaan, en hy benadruk die suiwer historiese karakter van die Nuwe-Testamen­tiese Teologie wat net godsdiensgeskiedenis moet wees. Hy is ’n sleutelfiguur van die godsdienshistoriese skool wat die Bybel* in die historiese en religieuse konteks van die eerste eeu nC wil beskou. Dit gaan oor die vroeë Christelike religie se geskiedenis, oor wat geleer en geglo is. Dit gaan ook nie net oor die Ou-Testamentiese* en Nuwe-Testamentiese kanon* nie; die Bybel moet in ’n breë godsdienshistoriese konteks ge­plaas word.

Sy boek oor die Messiasgeheim* (1901) lui ’n nuwe era in Evangelie-navorsing in. Sy siening van Markus* se teologiese tendens, ondergrawe die idee dat Markus ’n objektiewe historiese weergawe van Jesus* se lewe bied. Wrede se studie oor Paulus* (1904) versterk die kritiese siening van ’n kloof tussen Paulus en Jesus.

Teenoor Wrede, wat Nuwe-Testamentiese Teologie as hoofsaaklik deskriptief (en nie normatief nie) beskou, kan gestel word dat die teologiese inhoud van die Nuwe Testament tog bestudeer kan word. Kort voor sy dood bevestig Wrede in ’n brief aan Von Harnack dat sy opinie oor Jesus se bewussyn dat Hy die Messias* is, verander het. Wrede het dit toe as meer waarskynlik beskou, sonder dat hy sy tradisie-historiese benadering prysgegee het

Sidebar