WYCLIFF (WYCLIFFE, WYCLIF), JOHN

WYCLIFF (WYCLIFFE, WYCLIF), JOHN (1324–1384) was professor in Oxford toe hy genooi is om die koning se kapelaan te word. Hy het die kerk* aanstoot gegee deur die koning se besluit te steun dat kerklui wat korrup is, se eiendom gekonfiskeer moet word. Die pous* het nie hiermee genoeë geneem nie. Wycliff was nie ’n ondersteuner van die pousdom nie en het met heelwat van die kerklike leerstellings verskil – onder andere oor die transsub­stan­siasie*.

Hy het egter die meeste verskil van die kerk se hantering van die Bybel* en die feit dat aan die tradisie* meer gewig toegeken is as aan die Bybel self. Wycliff het gesê die Bybel het die hoogste gesag, nie die pous nie. Daarom, het hy geglo, moet die Bybel in die hande van gewone mense kom: “Die Heilige Skrif behoort aan ge­wone mense.” Hy het vir mense die Skrifte uitgelê en ’n paar priesters*2 gekry wat hom daarmee gehelp het. Die groep het veld gewen. Teen 1395 het hulle as die Lollarde (mompelaars) bekend gestaan – waarskynlik omdat hulle die hele tyd dele van die Bybel hardop vir hulleself opgesê het.

Die kerk kon nie toelaat dat Wycliff voort­gaan om die gesag van die pous te ondermyn nie, en hy is gevra om verant­woor­ding te doen. Die saak het by die Blackfriars-klooster in Londen plaasgevind. Toe die regters vir die eerste sitting hulle plek ingeneem het, het die mure van die klooster begin rammel. ’n Aardbewing het Londen getref. Die mense het gesê dat die Here* deur die natuur Wycliff se kant gekies het. Uiteindelik is Wycliff veroordeel en uitgeban. Hy het in ’n klein dorpie gaan woon waar hy voortgegaan het met die vertaling van die Bybel in Engels. Wycliff word dikwels “die môrester van die Reformasie” (Hervorming*) genoem. Tot vandag toe is daar ’n maat­skappy, die Wycliffe Bible Translators, wat hulle vir die vertaling en verspreiding van die Bybel beywer.

Sidebar