WYSHEID VAN GOD

         

WYSHEID VAN GOD. Wysheid het in die Ou Testament* en Nuwe Testament* ’n praktiese eerder as ’n teoretiese aard en bestaan basies uit die kuns om suksesvol te wees. Dit is nooit neutraal nie, omdat dit óf van God ontvang word óf vir God teenstaan. Wysheid* setel in die hart*, die sentrum vir morele en intellektuele besluite (1 Kon 3:9, 12), maar wysheid behoort in die volle sin van die woord aan God alleen (Job 12:13; Jes 31:2; Dan 2:20-23). Die wysheid van God behels volle insig van elke terrein van die lewe (Job 10:4), en die wêreld en alles daarop is die produkte van sy wysheid (Pred 3:19; Ps 104:24). God se wysheid be­stuur natuurlike (Jes 28:23-29) en historiese (Jes 31:2) prosesse, wat die onderskeiding van goed en sleg insluit (Ps 1), en sy wysheid is onnaspeurbaar (Job 28:12-21). Die enigste manier waarop mense* God se wysheid verstaan, is as dit aan hulle geopenbaar word (Job 28:23, 28). Sonder God is wysheid beperk en onproduktief (1 Kor 1:17; 2 Kor 1:12) en selfs dwaas* of duiwels (1 Kor 1:19; Jak 3:15). God demonstreer sy wysheid in sy voorsiening van verlossing* (Rom 11:33), nie as ’n esoteriese leerstelling vir enkele ingewydes van ’n geheime kultus nie, maar konkreet deur God se optrede deur Jesus* aan die kruis*. Selfs wysheid wat afkomstig is uit natuurlike vermoë of ervaring, is ’n genadegawe* van God wat dit moontlik maak. (Kyk ook: Dwaasheid.)           

  

 

Sidebar