WYSHEID VAN JESUS SIRAG, DIE

WYSHEID VAN JESUS SIRAG, DIE ook bekend as Ekklesiastikus. In die proloog van hierdie boek meld die kleinseun, Ben Sirag, dat hy in Aleksandrië* teen ongeveer 117 vC die teks uit die oorspronklike Hebreeus* in Grieks* vertaal het. Hiervolgens moes die oupa, Jesus Sirag, sy boek oorspronklik gedurende die eerste kwart van die 2de eeu vC geskryf het. Aangesien die negatiewe gevolge van die optrede van Antiogus IV* Epifanes nie in die boek teruggevind word nie, word aanvaar dat die boek vóór 176 vC in Jerusalem* geskryf moes gewees het. Daar bestaan dus twee weergawes van dié Wysheidsboek wat 50 hoofstukke omvat. Die proloog daarvan is slegs in Grieks beskikbaar.

Jesus Sirag was ’n lewenslange toege­wyde student van die Bybelse* geskrifte. Sy boek kan saam met die boeke Job*, Spreuke*, Kohelet (Prediker*) en die Wys­heid van Salomo as wysheidsgeskrifte ge­tipeer word. Hy skryf poësie en maak gevolg­lik van verskeie literatuursoorte en literêre vorms gebruik. Daar is oorvloedige getuienis dat hy sterk gesteun het op vroeër boeke van die Hebreeuse Bybel. Sy himnes vertoon egter ook ooreenkomste met rabbynse literatuur. Daar is bv stilist­iese ooreenkomste met die gesegdes van die vaders (Pirqe Abot). Hy was ’n wyd belese en berese geleerde en het ook van buite-Bybelse literatuur gebruik gemaak. Sy stellings in hoofstuk 39 getuig hiervan: Die ideale skrywer “bestudeer die wysheid van alle antieke kulture” (vers 1) en “hy reis onder die mense van vreemde lande, om te toets wat goed en kwaad is onder mense” (vers 4). Geleerdes het ook getuienis gevind dat Jesus Sirag van Griekse literatuur ge­bruik gemaak het. Hieroor bestaan egter verskil van mening. Sanders oordeel dat Sirag wel Hellenistiese* idees gebruik het solank dit in diens gestel kon word om die Judaïsme* te bevorder. Volgens Skehan en Di Lella is Die Wysheid van Jesus Sirag inderdaad ’n Joodse boek wat geskryf is met die eksplisiete oogmerk om die Jode van sy dag te inspireer om aan hulle tradisies getrou te bly. Hengel en Smend huldig ’n meer radikale standpunt en meen dat Ben Sirag inderdaad oorlog verklaar het teen die Hellenisme.

Ben Sirag spreek uiteenlopende temas aan soos wysheid, vrees van God, wet*, sonde* en vrye wil, vergelding, gebed*, tempelaanbidding, persoonlike moraliteit*, sosi­ale geregtigheid* en vroue. Daar is ook ’n prominente verhouding tussen wet en wysheid. (Kyk ook: Apokriewe boeke.)

Vir verdere lees: PW Skehan en A Di Lella 1987. The Wisdom of Ben Sira. New York: Doubleday.

Sidebar