WYSHEID

WYSHEID. Die beskrywing “wysheidsli­teratuur” word gebruik om die boeke SpreukeH, JobH, PredikerH, sommige psalmsH, die Wysheid van Salomo en van Jesus SiragH (laasgenoemde twee onder die apokrieweH boeke) te tipeer. Daar is ook ander versamelings wat met wysheid verband hou, soos HoogliedH, KlaagliedereH, die boek EsterH en wysheid in die Dooie See-rolleH. In die profeteboeke word ook wysheidsperspektiewe aangetref. Wysheid kom dus in die hele Ou TestamentH voor. Die rol van wysheid moet, soos deur Von RadH voorgestel is, benader word as ’n wysgerige poging om die werklikheid te be­gryp.

Wysheidsgenres: In die wysheid word van bepaalde literêre vorms gebruik ge­maak, byvoorbeeld die spreuk en die in­struksie (lering). Let ook op die volgende twee voorbeelde:

  1. Die wysheidsgesegde is ’n sin wat in die stellende vorm uitgedruk word en is meestal gebaseer op praktiese ervaring. Onder hierdie kategorie is drie tipes prominent. Die spreuk (mljÇl) trek ’n gevolg­trekking uit praktiese ervaring wat dan deur die mense aanvaar moet word, byvoorbeeld Spr 11:1: “’n Valse weegskaal is vir die Here ’n gruwel.” Die eksperimentele gesegde gee die een of ander aspek van die werklikheid weer. Byvoorbeeld Spr 11:24: “Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek.” In hierdie gesegdes word geen finale klinkklare antwoorde gebied nie, maar word afleidings aan die leser oorgelaat. Die didaktiese gesegde het onderrig as oogmerk. Volgens Fox is die boek Spreuke ’n handboek vir onderrig en is hoofstuk 2 gemik op onderrig. Wysheid word verkry deur opvoeding. In onderrig speel gebod en verbod ’n deurslaggewende rol.
  2. Gebod en verbod. In die wysheid gaan dit nie net oor objektiewe, beskrywende stellings nie; maar soms dwing die wysheer sy wil op die leerder af deur ’n bevel, positief of negatief. Voorwaarde- en doelsinne kom oorvloedig in hierdie literatuursoort voor, soos in Spr 2:1-5: “My seun as … dan sal …”

Sitz im Leben (konteks): Aangesien opvoeding ’n wesenlike oogmerk met wysheidsnadenke was, het dit ten nouste met bepaalde kontekste saamgehang. Die eerste is die gesin waar die aanspreekvorm “my seun” ’n aanduiding gee van die rol van tuisonderrig. Spr 10:1 is beskrywend: “’n Wyse seun maak sy vader gelukkig, maar ’n dwase seun bedroef sy moeder.” ’n Tweede moontlike wysheidsinstelling was die skool. Ofskoon geleerdes oor die bestaan van wysheidskole in Ou IsraelH verskil, is dit logies om te aanvaar dat lees en skryf in ’n amptelike konteks sou geskied het. In hierdie verband is die hof aan die paleis bepalend. Daar bestaan ook parallelle in die Ou Nabye Ooste.

Wysheidstemas: Naas onderrig word die skepping universeel aangespreek. Spr 8, Job 38 en Jesus Sirag 24 is gepaste voorbeelde. Die teodiseeH-probleem (oor die verhou­ding tussen God se oordeel en sy liefde) het JobH en sy vriende besig gehou. Dit was egter ’n tema wat wyd voorgekom het, onder andere in die BabilonieseH kroniek. Kritiese nadenke, insluitende sosiale kritiek, kom in Prediker voor. So kritiseer die Prediker vermoedelik dié soort wysheid wat in Spreuke voorkom.

Sidebar