XAPILE, SPIWO (PATRICK)

XAPILE, SPIWO (PATRICK) (1958–) is naby Mtata (voorheen Umtata) gebore. Hy behaal ’n diploma in teologie* aan die Federale Teologiese Seminarium in Pieter­maritzburg waarna hy verder in Aberdeen, Skotland, en aan die Universiteit van Kaap­stad studeer en uiteindelik sy doktorsgraad in kerkgeskiedenis* aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy begin sy bedie­ning in die Reformed Presbyterian Church in Uitenhage en is later betrokke by die onderhandelings vir dié kerk se hereniging tot die Verenigende Presbiteriaanse Kerkvan Suidelike Afrika. Xapile word sekretaris van die uitvoerende komitee van die Wes-Kaapse Raad van Kerke terwyl hy predi­kant* van die JL Zwane Memorial-gemeente in Guguletu is. Sy vernaamste bydrae is geleë in die sluit van sleutelvennootskappe met sakeondernemings en buitelandse kerke ten einde sosiale verantwoordelikheids­programme in agtergeblewe gemeenskappe in Suid-Afrika te bevorder. So rig hy ’n doelmatige kerklike gemeenskapsentrum in die hart van Guguletu op. Xapile is ’n leidende figuur in die kerklike reaksie op die MIV en vigs-pandemie. In 1997 was hy ’n ontvanger van die Presidentstoekenning van pres Nelson Mandela vir die beste ge­meenskapsuitreikprogram in die Oos-Kaap-streek, waar hy hom saam met sy Wes-Kaapse verantwoordelikhede druk besig hou. Xapile dien in die raad van die Insti­tute for Justice and Reconciliation en is ge­reeld die gasheer van besoekers en studente uit die internasionale gemeenskap vir wie hy betrokkenheid by die Kaapstadse of lan­de­like gemeenskappe van Suid-Afrika fasiliteer.

Sidebar