XHOSAS EN DIE CHRISTELIKE GELOOF

XHOSAS EN DIE CHRISTELIKE GELOOF. Die verspreiding van die Christelike geloof* onder Xhosas in die 19de eeu, kan rofweg in drie fases ingedeel word. Die eerste, van die einde van die 18de eeu tot 1820, is ’n tyd toe daar onder die Xhosas ’n verskeidenheid religieuse simbole in omloop was met tradisionele godsdiens die aanvaarde norm. Die tweede fase, van ongeveer 1820 tot ongeveer 1860, dui op die koms van die Britse setlaars* en die geleidelike ingang van sendelinge* in Xhosaland. Britse koloniale* mag het ’n faktor geword en daarmee saam is die Christelike geloof deur die nuwe besetters as die norm aangebied, en Xhosa-simbole as boos en heidens* voorgehou. Die derde periode, van onge­veer 1860 tot ongeveer 1910, is die tyd van wit heerskappy en die kerstening van baie Xhosas, maar ook ’n tyd dat van hulle begin het om hulle eie simbole te herwin en probeer het om dit met ’n Afrika*-verstaan van die Christelike geloof te integreer. Terwyl die Xhosa fisiek nie “vryheid” geken het nie en deur blankes gedomineer is, het hulle geestelik wel ’n mate van “vryheid” beleef deur weë te vind om hulle Chris­telike geloof so uit te druk dat dit resoneer met hulle Afrika-belewenis.

In die 20ste eeu is hierdie proses in baie opsigte geïntensifeer. Twee wêreldoorloë het buite die Xhosa se landelike leefwêreld gewoed, maar industrialisasie het baie van hulle, veral mans, na die stede laat migreer om daar op die myne en elders ’n heen­kome te vind. Apartheid* – en die skep van state soos Transkei en Ciskei – het nie die beweging na die “blanke” stede omgekeer nie. Sekularisasie*, wat deel is van die moderne Westerse leefstyl, het die verstedelikte Xhosa ook nie onaangeraak gelaat nie. Tog het die Christelike geloof by baie diep ingang gevind, en behoort ’n aansienlike aantal Xhosas aan van die hoofstroom­kerke. Nelson Mandela*, hoewel nie baie openlik oor sy Christenskap nie, het meermale getuig dat die Metodistekerk* se sendingskole in sy opvoeding ’n groot rol gespeel het – “toe die regering nie gesorg het nie, het kerke deur kerkskole ingegryp en groot en blywende werk gedoen. Dit sal ek altyd onthou,” het hy by geleentheid gesê. Hy is ook in die Metodistekerk ge­doop*. Die onafhanklike kerke met hulle gebruikmaking van eie seremonies en simbole wat teruggryp na die ou Xhosa-kul­tuur, het steeds ’n groot impak in baie Xhosas se lewe. En Afrika-tradisionele godsdiens wat baie keer min erg het aan die Christelike geloof, speel ook onder hulle ’n rol.

Vir verdere lees:Richard Elphick en Rod­ney Davenport (red) 1997. Christianity in South Africa. A political, social and cultural history. Kaapstad: David Philip.

Sidebar