YOUNG MEN’S CHRISTIAN ASSOCIATION (YMCA)

YOUNG MEN’S CHRISTIAN ASSOCIATION (YMCA). George Williams, ’n Engelse assistent-kleremaker, en twaalf van sy vriende wat gereeld vir gebed* en Bybel­*studie saamgekom het, het in 1844 gevoel dat hulle op ’n praktiese manier in die be­hoeftes rondom hulle moet voorsien. By die Wêreld-Handelstentoonstelling van 1850 in Crystal Palace in Londen het die groot deurbraak gekom. Hulle het 350 000 traktaatjies versprei en intensief evangelisasie­*werk gedoen.

Moody*, wat die tentoonstelling bygewoon het, was so beïndruk met die werk wat hulle gedoen het, dat hy in Amerika daarop gaan voortbou het.

Die eerste tak in Suid-Afrika is in 1865 in Kaapstad met 80 ondersteuners gestig (dit was net nadat ’n hewige storm wat twee dae gewoed het, die stad verwoes het; tien skepe het in Tafelbaai ondergegaan). Teen 1900 was daar 34 takke in die land wat sang­aande, bootritte, gimnasiumaande, biblioteekaande, openbare lesings, Bybelklasse, snelskrif, regsklasse, Hollandse klasse en houtwerk aangebied het. Daar was ook krieket en sokker.

Port Elizabeth se YMCA het in 1980 met die regering gebots nadat hulle tehuis vir alle rasse oopgestel is. Deesdae is straat­kin­ders ’n belangrike deel van die YMCA se uitreikwerk.

Sidebar