YUN, BROTHER

YUN, BROTHER (1958–) is gebore met die naam Liu Zhenying in die Henan-provinsie, China*. Op 16-jarige ouderdom kry hy die roeping om Christus* as Verlosser te volg. Een nag, getuig hy, het hy ’n roepstem gehoor wat vir hom sê: “Yun, Ek stuur jou na die weste en suide om my getuie te wees.” Die volgende dag het hy na ’n dorpie aan die westekant van waar hulle gewoon het, vertrek en die evangelie* aan die inwoners oorgedra. Die Here* het Simon Zhao, wat 31 jaar lank vir sy geloof* in die tronk aangehou was, gebruik om die gedagte aan die Back to Jerusa­lem-beweging in Yun se hart te laat ontstaan. Die beweging stel hulle dit ten doel om die evangelie via onbereikte lande terug te dra na Jerusalem*. Van China af is dit ’n beweging in ’n westelike rigting. Dit is die droom van die ondergrondse kerk in China om 100 000 sendelinge te mobiliseer en oor China se grense te stuur op pad na Jerusalem. Daar is ook ’n aantal Chinese Christene van dié beweging in Kaapstad en onder andere in Kayelitsha werksaam.

Brother Yun, wat ook bekend staan as “the Heavenly Man”, is een van die leiers van die ondergrondse kerk in China. Hy het vier keer gevangenisstraf uitgedien en is by meer geleent­hede gearresteer. In 1997 “ontsnap” Yun op ’n bo-natuurlike manier uit die gevangenis. Ná ’n ompad ontvang hy vlugtelingstatus in Europa en sedertdien tree hy as  prediker in verskeie lande van die wêreld op.

Vir verdere lees: Paul Hattaway 2002. The Heavenly Man: The Remarkable True Story of Chinese Christian Brother Yun. Londen: Monarch Books. Paul Hattaway 2003. Back to Jerusalem: Three Chinese House Church Leaders Share Their Vision to Complete the Great Commission. Waynesboro: Autentic Media.

Sidebar