ZAHN, GUSTAV ADOLF

ZAHN, GUSTAV ADOLF (1808–1890) is in Schwarzburg, Duitsland, gebore. Hy is aan die Rynse Seminarium in Barmen (tans deel van Wuppertal) as sendeling* opgelei, en in 1828 saam met drie ander Duitse sendelinge na die Kaap gestuur. Zahn begin op Tulbagh werk – aanvanklik as die sendeling Arie Vos se assistent. Sy energieke inisiatiewe veroorsaak dat die werk uitbrei tot in Worcester en die Hexriviervallei. Hy koop later ’n plaas aan en stig die sending*dorp Steinthal daarop.

As gevolg van pastor Zahn se ywer en bekwaamheid, is hy in 1849 as superinten­dent van al die Rynse gemeentes in die Kaapprovinsie aangestel. Hy beklee hierdie pos tot met sy aftrede in 1886. Die Rynse Sendinggenootskap het altyd goeie bande met die NG Kerk* gehandhaaf, wat deels aan die toegewyde arbeid deur Gustav Zahn as een van die baanbrekers van die Rynse Sendinggenootskap in Suid-Afrika toegeskryf kan word. Dit lei uiteindelik daartoe dat Rynse sendinggemeentes in die tweede dekade van die 20ste eeu by die NG Sendingkerk* ingelyf is.

Sidebar