ZIMMERLI, WALTHER

ZIMMERLI, WALTHER (1907–1983) ontvang sy opleiding in teologie* en Semi­tiese* tale in Duitsland. Hy promoveer onder Hempel in Göttingen oor die geskiedenis en tradisies verbonde aan Ber­seba* en Bet-El*. Ná aanvanklike diens as predikant* in Switserland, word hy in 1950 na Göttingen as professor in die plek van Von Rad* be­roep, waar hy tot en met sy dood bly.

Zimmerli was ’n kenner van profetiese literatuur en het veral klem op die teologiese interpretasie van Ou-Testamentiese* tekste gelê, met besondere aandag aan die tweede gebod. Hierdie teologiese interpretasie moes gewortel wees in die historiese verstaan van die ontstaan van tekste en moes die grondslag vorm vir die verdere sistematies-teologiese verstaan van die Bybel*. Sy bekendste werke is die kommentaar oor Esegiël*, wat twee bande beslaan, en sy teologie van die Ou Testament. Vol­gens Zimmerli is Esegiël “die teoloog onder die profete” wat op ’n unieke manier die profetiese elemente (roeping*, Godsprake, tekens*, gesigte*, selfbekendstellingsfomules en uitsprake teen vreemde volke) gekombineer het met die priesterlike materiaal (rein en onrein*, sowel as die eskatologiese* visie van die tempel*). Dit is interessant dat Zimmerli se klem op die teologiese interpretasie dit steeds vir hom moontlik ge­maak het om die “aardsheid” van die Ou Testa­ment na waarde te skat.

Met ’n vriendelike maar ferm persoonlikheid het Zimmerli nie net twee termyne as rektor van Göttingen gedien nie, maar is ook een maal as die voorsitter van die ko­mitee vir Europese rektore verkies. Hy is onder andere met ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit van Straatsburg vereer.

 

Sidebar