ZION CHRISTIAN CHURCH (ZCC)

ZION CHRISTIAN CHURCH (ZCC) is die grootste Afrika-Onafhanklike Kerk* in Suider-Afrika. Met ’n lidmatetal van onge­veer 4 miljoen en 40 000 gemeentes, is die ZCC ook die grootste enkele denominasie in die land. Byna 13% van alle Suid-Afri­kaanse Christene behoort aan die ZCC. Die kerk is in 1910 deur Engenas Lekganyane*, wat bande met sowel die Skotse Presbiteriaanse Kerk, die Apostoliese Geloofsending* en die Christian Catholic Apostolic Church van John Alexander Dowie in Zion (Illinois, VSA) gehad het, ge­stig. Teen 1942 is die ZCC, toe reeds met takke in Botswana en Zimbabwe, amptelik as kerkgenootskap geregistreer.

Ná die dood van Engenas (1948), het sy seun Edward die leiding van die kerk op hom geneem, en daarin geslaag om die ZCC uit te bou tot ’n landwye gemeenskap. Sy pa, Engenas, het die status van ’n spesiale profeet – in die oë van baie, ’n swart messias – verkry. Die hoofkantoor by Moria, naby Polokwane (Pietersburg), het die naam “Zion City” gekry. Edward Lekga­nyane se leierskap was egter nie onbestrede nie. Net na die dood van Engenas, het die ZCC in twee geskeur. Onder leiding van Lekganyane se tweede oudste seun, Joseph, het die Saint Engenas Zion Christian Church tot stand gekom. Relatief min lidmate het Joseph egter gevolg, terwyl die groot meerderheid aanhangers van Lekga­nyane hulle by Edward geskaar het. Die simbole van die twee kerke word deur die lidmate op hulle klere gedra: die groot ZCC het die sespuntige Dawidster as simbool, terwyl die kleiner Saint Engenas ZCC ’n gevleuelde duif as simbool het. Toe Edward te sterwe kom, het sy seun Barnabas – wat reeds as jong man deur die kerkleiding gereed gemaak en toegerus is – die leisels oorgeneem. Barnabas het die ZCC op allerlei maniere nader aan die hoofstroom­kerke in Suider-Afrika gestuur.

Die ZCC neem ’n spesiale plek in die swart kerkegemeenskap in Suider-Afrika in. Die kerk wil baie graag as brug dien tussen die tradisionele Afrika-godsdiens* en die hoofstroom van die Christelike geloof*. Ge­loofsgenesing* en gebed* speel ’n groot rol in die kerklike aktiwiteite, terwyl die ZCC met sy hegte gemeenskapsgevoel vir miljoene ontwortelde Suid-Afrikaners in die stad en op die platteland ’n geestelike tuiste bied. Baie word gemaak van die krag van die Heilige Gees* in die lewe van die kerk. Die gesag van die biskop en die senior leiers van die kerk word as vanselfsprekend aanvaar. Elke jaar met Paasfees* en weer in Septembermaand wanneer die lentefees gehou word, reis groot getalle lidmate na Zion City om fees te vier. Dae lank word daar gesing en gebid en na preke geluister. Genesings vind plaas en talle nuwe bekeerlinge meld hulle vir die doop* aan, by die riviertjie net langs die kerksentrum by Moria.

Die ZCC gee vir sy mense en hulle behoeftes om. Deur die loop van die jare het die kerk talle skole en klinieke gebou, ’n eie busdiens en ander sakeondernemings in die Limpopo-provinsie begin, en ’n uitgebreide beursskema wat jongmense in staat stel om tersiêre opleiding te ontvang, in die lewe geroep. Streng eise word deur die kerk aan sy lidmate gestel. Hulle moet ’n suiwer lewe lei en ’n voorbeeld wees vir die mense om hulle. Drank, rook en die gebruik van varkvleis is verbode, terwyl van jongmense verwag word om op seksuele gebied kuis en verantwoordelik op te tree.

Sidebar