ZOELOES EN DIE CHRISTELIKE GELOOF

ZOELOES EN DIE CHRISTELIKE GELOOF. Kaptein Allen Gardiner* kan as een van die eerste blankes beskou word wat met die Zoeloes*, en by name koning Dingane*, oor geloof* in Christus* gaan praat het. Hy het geen sending*genootskap of kerk* verteenwoordig nie, en is deur geen regering gesteun nie, maar was op eie houtjie begeesterd om Dingane vir Christus te wen – al was hy deur Faku van die na­burige Mpondo’s gewaarsku dat die Zoeloes ’n “kwaai volk” is. Dingane was bereid om met hom te praat, maar is nie deur hom oortuig nie. Gardiner het ook met baie ander Zoeloes gepraat, en agter­gekom dat hulle in ’n Skepper glo, maar dat hulle nie dink dat die Skepper danig belang stel in mense se doen en late nie, behalwe om te verwag dat die dooies geëer sal word. Gardiner het niemand tot beke­ring* gebring nie, maar gevind dat die mense nuuskierig is en baie vrae stel. In hierdie tyd het Amerikaanse sendelinge ook in Natal aangekom – sommige oortuig dat massabekerings kort na hulle aankoms sou plaasvind. Daniel Lindley* het die Voor­trekkers* se predikant* geword, en sy kollega Aldin Grout het die ideaal nagestreef om die Zoeloes en masse te bekeer. Wat nie gebeur het nie. Hans Schreuder, van die Noorweegse Lutherse* Kerk, was daarvan oortuig dat, as hy ’n koning tot bekering sou bring, die hele volk gou sou volg. Nadat ko­ning Mpanda siek geword, van Schreuder se medisyne gebruik en gesond geword het, het hy Schreuder toegelaat om sen­ding­stasies oral in sy koninkryk te stig. Die Her­mannsburgse Sendinggenootskap het ge­volg, daarna Franse Katolieke*, die Ber­lynse Sendinggenootskap, Wesleyaanse* sende­- lin­ge en John Colenso*, die eerste biskop* van Natal, namens die Church of England*. Colenso het talle parallelle tussen die Zoeloe-kultuur en die Christelike geloof raakgesien. Die Zoeloe-kultuur het God erken en Hom Unkulunkulu genoem: ’n naam wat Colenso ook in sy dienste begin gebruik het. Hy het gemeen dat families eerder as enkelinge tot geloof gebring moet word.

Die eerste dekades van sendingwerk onder die Zoeloes het nie baie opgelewer nie. Mettertyd het dinge verander. Sending­aksies van hoofstroomkerke, ook Afri­kaanse kerke soos die NG Kerk*, het begin. Sendingskole is goed bygewoon, en sen­dingstasies het op verskillende maniere diens aan die gemeenskappe begin lewer. Zoeloe-Christene het met eie evangelisasie*-aksies begin – wat meermale deur wit sendelinge met suspisie bejeën is. Die pad is algaande voorberei vir die grootskaalse vordering van die Christendom* in die 20ste eeu. Teen 1900 was daar ’n netwerk van Zoeloe-evangeliste oor die hele Zoeloe­land/Natal versprei. Stamhoofde en ko­nings het nie meer gekeer nie, en die evan­gelie* kon oral vryelik verkondig word. Vir die eerste keer het bekeerlinge in groot getalle na die kerke begin stroom. ’n Chris­ten-middelklas het ontwikkel. In die 20ste en vroeë 21ste eeue het die Christelike geloof wyd ingang onder die Zoeloes gekry met bekende en invloedryke leiers soos Mangasuthu Buthe­lezi ’n oortuigde Christen. Tradisionele Afrika-godsdiens is egter steeds ’n faktor.

Vir verdere lees: Richard Elphick en Rodney Davenport (red) 1997. Christianity in South Africa. A Political, Social and Cultural History. Kaapstad: David Philip.

 

Sidebar