ZULU, ALPHAEUS HAMILTON

ZULU, ALPHAEUS HAMILTON (1905–1988) het sy sekondêre skoolopleiding in Newcastle ontvang en hom daarna as on­derwyser by St Chad’s College op Lady­smith bekwaam. In 1926 is hy as skoolhoof van die middelbare skool in Umlazi, Durban, aangestel. Dertien jaar later bereik hy ’n keerpunt in sy lewe wat hy later as ’n roeping* van God beskryf het. Hy het in Johannesburg by die Anglikaanse* teologiese kollege ingeskryf en is die daaropvolgende jaar as diaken*2 georden. In 1942 is hy as priester*2 by St Faith in Durban georden, in 1957 word hy ere-kannunik en in 1960 biskop* van die Transkei. In 1978 het die Rhodes-Universiteit ’n eredogtorsgraad aan hom toegeken.

Terwyl hy in Durban was, het hy ’n gees­telike groep, Iviyo Lofakasi (Getuies van God se wonders), gevorm. In 1968 is hy ge­kies as biskop van Zoeloeland en Swazi­land. Vanweë die apartheidsbeleid* kon hy nie die biskopswoning bewoon nie.

In die vroeë 1960’s is hy gekies as president van die Wêreldraad van Kerke (WRK)* waar hy vir 7 jaar leiding gegee het. Die destydse regering het dit dikwels vir hom moeilik gemaak om sy internasionale ver­pligtings na te kom, deur bv sy reisdokumente te konfiskeer. Hy het egter deurgaans geweld veroordeel en daarom moes hy uiteindelik by die WRK verwer­ping ervaar omdat hy nie hulle resolusies van ’n gewelddadige oplossing van Suid-Afrika se probleme wou ondersteun nie. Terwyl hy in Natal was, het hy met Albert Lutuli* saamgewerk en baie gedoen vir die opheffing van armoede.

Zulu was passievol oor musiek. Terwyl hy priester in Durban was, het hy maklik die koor tydens die diens gestop wanneer hulle van die noot af gaan en dan vir hulle die regte noot gegee.

Sidebar