ZUMA, JACOB

ZUMA, JACOB GEDLEYIHLEKISA (1942-) Zuma, met min skolastiese opleiding, was tydens die apartheidsjare ’n gevangene op Robbeneiland, het reeds aan vroeë “gesprekke oor gesprekke” oor ’n nuwe staatkundige bedeling vir Suid-Afrika deelgeneem, het later adjunk-president van Suid-Afrika geword, maar is deur pres Mbeki* afgedank nadat in ’n hofuitspraak geïmpliseer is dat hy ’n korrupte verhouding met die veroordeelde misdadiger Sabir Shaik gehad het. Daarna het hy teruggeveg, uiteindelik president van die ANC en van Suid-Afrika geword, en met omstrede optredes en uitsprake sy hoë amp telkens in die gedrang gebring.

Zuma het, ook voordat hy ANC-president geword het, geen geheim daarvan gemaak dat hy as Christen Pinkster-charismatiese* voorkeure het nie. Gerald West, professor in Godsdiensstudies aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, skryf hieroor (Mail & Guardian, 23 Desember 2014): “In his choice of religious sites, Zuma tends to favour Christian faith communities, preferring Pentecostal-charismatic churches. Here, it would seem, is a constituency in which he not only feels comfortable but which he also considers politically important … there are signs that, under the leadership of Jacob Zuma, the ANC will endeavour to co-opt the vast swath of evangelical-Pentecostal-charismatic Christianity that pervades and cuts across the myriad of Christian churches of all kinds in South Africa.” In ’n boodskap aan die ANC laat in 2011, het die ekumeniese* Kairos-groep kommer uitgespreek dat Jacob Zuma se party “co-opt and promote church leaders who clearly do not have a liberatory perspective but are willing to uncritically bless the ANC”.

Die Nkandla-debakel sou in 2016 lei tot ’n streng uitspraak deur die Konstitusionele Hof dat Zuma nie sy eed om die Grondwet van Suid-Afrika te eerbiedig en te handhaaf, nagekom het nie. Die wanbesteding van miljoene rand se staatsgeld aan Zuma se private woonkompleks in KwaZulu-Natal, en Zuma en die Parlement se jarelange weiering om aan die Openbare Beskermer se opdragte in dié verband uitvoering te gee, het ná die hofuitspraak landwyd aanleiding gegee tot driftige aandrang dat hy as president moet bedank. Hy het wel verskoning gevra vir die hantering van die skandaal, maar die skuld eerder op swak regsadvies gepak as dat hy self sy plig gruwelik versuim het. Ook van kerklike kant, ook deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK)* waarvan die NG Kerk* deel is, is gevra dat Zuma “die regte ding moet doen” en moet bedank. Hy het geweier.

Die “staatskaping” deur die Gupta-familie, wat as vriende van Zuma tydens sy bewindstyd ‘n al hoe invloedryker en korrupter rol in regeringsake en staatsinstellings gespeel het, het uiteindelik wel daartoe gelei dat Zuma in Februarie 2018 as president moes bedank om ‘n mosie van wantroue in die Parlement te ontduik. Die sg Zondo-kommissie, onder voorsitterskap van die adjunk-hoofregter van Suid-Afrika, het daarna met ‘n tweejaarlange ondersoek begin om die spinnekopweb van staatskaping te ontwar en diegene wat daarby betrokke was, aan die kaak te stel.

Jacob Zuma se regeertyd in Suid-Afrika sal veral onthou word as ’n tyd van “baantjies vir boeties”, van selfverryking deur sommige politici en hulle meelopers, van korrupsie, van wanbestuur en van ekonomiese agteruitgang.

Sidebar