OZROVECH, SOLOMON (SOLLY)

OZROVECH, SOLOMON (SOLLY) (1927–2015) is jare lank as die gewildste Afrikaanse skrywer van geestelike boeke beskou. Let­terlik honderde duisende eksemplare van sy boeke, waaronder talle Bybelse* dagboeke, is deur die jare versprei – die meeste daarvan geskryf ná sy aftrede as predikant*. Hy is in Hillbrow gebore as die seun van ’n Joodse egpaar uit Pole. Enkele maande ná sy geboorte sterf sy ouers in ’n motorongeluk en hy en sy broer, Mark, beland “per abuis” in die NG Kerk* se kinderhuis op Ugie. Teen die tyd dat die owerhede hulle fout agtergekom het, wou mev Lettie Roos, wat na hulle omgesien het, hulle nie laat gaan nie. Nadat Ozrovech in sy kinderhuisjare tot bekering* gekom het, het hy begin droom om vir die Here* te werk. Hy het vir predikant gaan studeer en het, om sy studiegeld te betaal, sy klasnotas getik, gedupliseer en aan medestudente ver­kwansel. Hy het ook hare geknip, sakeondernemings se boeke gedoen en klere her­stel. Hy is in 1951 gelegitimeer* en was die predikant van Zionskerk in die Paarl, Steytlerville, Ugie-kinderhuis, Strand-Noord, Gordonsbaai, Robertson-Oos en Vishoek. In Gordonsbaai het hy onder meer begin met ’n tweetalige “inrydiens” vir tot 4 500 mense op ’n slag. Ná sy aftrede in April 1991 het hy voltyds begin skryf. Verskeie van sy Bybeldag­boeke en ander publikasies is ook in Engels vertaal. Erkenning vir sy werk is gegee deur spesiale toekennings van die Christelike Boekhandelaarsvereniging van Suid-Afrika en die beheerraad van die Andrew Murray-prysfonds*. Onbewese bewerings oor sy optrede teenoor van die seuns in die Ugie-kinderhuis toe hy daarvan die hoof was, het sy laaste jare versomber.

Sidebar