FOURIE, PETRUS JACOBUS ANDREAS (PIETER)

FOURIE, PETRUS JACOBUS ANDREAS (PIETER) (1951–) het op Stellenbosch teologie studeer en in 1989 sy doktorsgraad daar verwerf met ’n proefskrif oor Die ontologiese verhouding tussen teologie en wetenskap. In 2002 het hy die graad MBA aan dieselfde universiteit verwerf met ’n skripsie oor Die implikasies van grondwetlik-gewaarborgde godsdiensvryheid vir die arbeidsregtelike posisie van predikante en ander geestelikes. Fourie was van 1976 tot 1983 die predikant van die Rynse Gemeente, NG Sendingkerk* (die latere Verenigende Gereformeerde Kerk in Suidelike Afrika – VGK*); van 1984 tot 1992 senior lektor en later professor in godsdiensstudies, Qwaqwa-kampus, Universiteit van die Noorde, en van 1992 tot 1998 direkteur, publikasies en inligting, van die VGK.

In hierdie hoedanigheid was hy redakteur van die VGK se amptelike blad, Die Ligdraer*, wat met sy aankoms ’n verliesmaker was, met sy vertrek ’n winsmaker. Dié blad is in sy tyd meertalig uitgegee – met berigte en artikels in Afrikaans, Engels, seSotho en isiXhosa. Hierna was Fourie ’n tyd lank projekbestuurder van die South African Employment Development Association (SAEDA), en in 2006 het hy die uitvoerende hoof van die Bybel-Media*-groep (voorheen Bybelkor* en ander kerklike media-instansies) geword. Fourie kombineer media- en sakekennis met teologiese insig. Onder sy leiding het Bybel-Media ‘n reeks regsliggame gekonsolideer, weer boeke begin uitgee, verhoudings met die NG Kerk versterk en brûe na die VGK gebou, die eerste e-boeke uitgegee, ‘n internetboekwinkel begin, die musiekskat van die NG Kerk bewaar, Bybel-Media se missionêre betrokkenheid en die opleiding van ongeskoolde kerkleiers uitgebrei, staatsakkreditasie vir die kursusse verkry en formeel twee beroepskategorieë op NKR-vlak 2 en 5 bewerkstellig.

Met 2015 se Algemene Sinode van die NG Kerk het Danie Mouton, direksievoorsitter van Bybel-Media aan hom ‘n toekenning oorhandig met die woorde: “Inleier tot ‘n nuwe era.”

Sidebar