JUWELE EN EDELSTENE

JUWELE EN EDELSTENE. Gedurende al die Bybelse periodes is juwele as waardevol geag en veral deur vroue* gedra (Eks 11:2; Jes 3:18-21). Juwele is as geskenke aangebied (Gen 24:22, 53) en ook as buit geneem ná ’n oorwinning (2 Kron 20:25). Voordat ’n muntstelsel (Kyk by: Mate, gewigte, geld)  bestaan het, is juwele as ruilitem gebruik (2 Kron 21:3) en om waardes vas te stel (Job 28:16; Pred 3:15; Op 21:11). Ons kry voorbeelde van armbande (Gen 24:22, 30, 47; Eseg 16:11), enkelversierings (Jes 3:18, 20), hals­snoere (Gen 41:42), krone (Sag 9:16), oorbelle (Gen 24:22), neusringe (Jes 3:21) en seëlringe (Gen 41:42; Ester 3:10; Luk 15:22). Sulke juwele is gewoonlik van goud, silwer of brons gemaak.

Edelstene (= kosbare delfstof soos diamant, robyn, saffier – HAT, 2005) en halfedelstene (= waardevolle gesteente of steen wat as versiersel gebruik word, maar van minder waarde as die egte edelstene is – bv agaat, rooskwarts, tieroog – HAT, 2005) is uitgeken aan hulle kleur, skoonheid, skaarsheid en duursaamheid. Dié kosbare stene het veral vanaf Arabië*, Indië en Egipte* gekom. Toe die Israeliete* uit Egipte bevry is, het hulle juwele en edelstene as buit saamgeneem (Eks 3:22; 12:35-36). Heelwat handelskonvooie met kosbare edelstene het vanaf Babilonië* en Persië* op pad na Egipte deur Palestina gereis (vgl Eseg 27:22). Edel- en halfedelstene is toe nog nie in vlakke geslyp volgens ons moderne metodes nie, maar eerder net gerond en blink gepoleer, dikwels met graverings.

Die bekendste voorkomste van edelstene in die Bybel* word aangetref in die beskrywings van die borsplaat van die hoë­pries­ter* (Eks 28:17-20; 39:10-13), die skat van die koning van Tirus* (Eseg 28:13) en die edelstene in die fondamente van die Nuwe Jerusalem* (Op 21:18-21). Op allerlei vinding­ryke maniere het mense die stene van Op 21:18-21 verbind aan spesifieke stamme, apostels*, sterretekens en geografiese ge­biede. Dit is bloot interessante spekulasie. Aan die kleure en volgorde van die stene moet ook nie besondere betekenis geheg word nie.

Die borsplaat van die hoëpriester was ’n vierkantige sak van materiaal, met sye van 25 cm. Die twaalf edelstene is in vier rye van drie elk gerangskik (Eks 28:16-20; 39:9-13). Op elke steen is die naam van een van die twaalf stamme van Israel* gegraveer. Volgens Eks 28 en 39 is die naam van ’n steen en ’n stam egter nie saam vermeld nie. Die funksie van dié borsplaat was om die Here* te herinner aan die twaalf stam­me wanneer die hoëpriester die heiligdom ingaan. Die twaalf stene in die fondament van die Nuwe Jerusalem (Op 21) kom nie presies ooreen met enige ander bestaande lys nie en simboliseer die teenwoordigheid van God en die Goddelike oorsprong en instandhouding van die stad en sy mense. Dit staan ook in kontras met die juweelbehangde sedelose vrou Babilon (Op 17:4; 18:12, 16).

Om die verskillende stene volgens die Bybelse lyste en voorkomste vandag te iden­tifiseer, is bykans onmoontlik. ’n Hebreeuse* benaming vir ’n steen (vgl Eks 28 en 39) is deur die Septuaginta* geïnterpreteer en weer geïnterpreteer deur later Griekse lyste (vgl Op 21). Om dit te verbind aan ons huidige geologiese identifikasie van stene, is baie problematies. Die antieke wêreld het die edelstene geklassifiseer volgens kleur, gebruike en land van herkoms. Uit Plinius en Josefus se geskrifte (Periplous Mari Erythraei) is egter waardevolle inlig­ting bekom.

Die volgende belangrikste edel- en halfedelstene word in die Bybel aangetref:

Agaat (Hebreeus sbw; Septuaginta achates; Vulgaat* achates – Eks 28:19; 39:12; Eseg 28:13). Dit is die tweede steen in die derde ry van die hoëpriester se borsplaat en verteenwoordig simbolies die stam Aser*. Aan dié steen is ook tot in die Middeleeue genesende krag toegeken. Volgens oorlewerings sou ’n arend dié halfedelsteen in die nes plaas om die kleintjies te beskerm teen die byt van giftige diere. Dit het gewoonlik ’n wit of bruin kleur met lae wat swart, wit en bruin gestreep is. As dit só gesny is dat die lae kleur wys, is dit agaat genoem.

Albaste (Grieks alabastros). Dit verwys na die langnekflessie van albaste waarin duur parfuum gestoor is. Dit ontstaan as kal­siumkarbonaat, opgelos in water as stalagtie­te. Moderne albaster verskil baie hiervan.

Ametis (Hebreeus ahlmh; Septuaginta amethustos). In Op 21:20 is dit die twaalfde steen in die fondament van die Nuwe Jerusalem. Dit is die derde steen in die derde ry van die borsplaat van die hoëpriester, simbolies verteenwoordigend van die stam Issaskar (Eks 28:19; 39:12; vgl Eseg 28:13). Die Griekse naam vir dié steen sinspeel op die populêre geloof dat die ametis voorkomend teen vergiftiging was. Daarom het swaar drinkers ametis om hulle nekke gedra om die “gif” van te veel wyn af te weer! Dié halfedelsteen het ’n helder deurskynende pers kleur. Die Oosterse ametis was van die saffier-familie en baie hard en deurskynend. Die Westerse ametis is van die silika-familie en geskik vir gravering. Die kenmerkende pers tot dieprooi kleur was by albei opvallend.

Berilsteen (Hebreeus ’hlm; Septuaginta berullos; Vulgaat berullus). In die borsplaat van die hoëpriester het dié steen die derde plek in die tweede ry ingeneem en het simbolies die stam Naftali* verteenwoordig (Eks 28:19; 39;13; vgl Eseg 28:13 en Tobit 13;17). Volgens Op 21:20 is dit die agtste steen. Dié halfedelsteen het geskakeer van kristalhelder blouerig tot geelgroen.

Chalkedoon (Grieks chalkedon Op 21:19). Soms word dié helderrooi halfedelsteen verwar met agaat. Dit is die derde steen in die fondament van die Nuwe Jerusalem. Dit is vernoem na ’n pleknaam, ’n dorpie aan die suidekant van die Bosporusrivier (aldus Plinius). Soms is dit ook die noemnaam van ’n groen steen. Die verwarring is daaraan toe te skryf dat verskillende halfedelstene in die omgewing van die dorpie Chalkedon gevind is en almal net Chalkedon genoem is.

Chrisoliet (Grieks chrusolithos; Vulgaat chrusolithus Op 21:20). Dié sewende steen in die fondament van die Nuwe Jerusalem is oorspronklik geelgoud van kleur. Chrisoliet is die antieke term vir die huidige geel topaas.

Chrisopraas (Grieks chrusoprasos Op 21:20). Dié halfedelsteen wat goudgroenkleurig is, word soms verwar met die chalkedoon. Onbewerkte chrisopraas kan met turkoois vergelyk word – ’n liggroen steen met goudstrepe daar­in. Die bena­ming turkoois word dus vir dié groenerige goudgetinte steen ver­kies.

Diamant (Hebreeus jhlm Eks 28:18; 39:11; Eseg 28:13; of ook smr Eseg 3:9; Sag 7:12; Jer 17:1). Die kwaliteit van dié stene laat ’n mens dink aan ’n hedendaagse diamant, veral wat sy hardheid betref. Die moderne diamant was waarskynlik onbekend in die Ou-Testamen­tiese tydvak. Die Septuaginta het smr vertaal deur adamantinos vanwaar die bena­ming diamant waarskynlik kom.

Glas (Hebreeus zkwkt Job 28:17). Die zkwkt word volgens Job 28:17 in waarde vergelyk met goud, daarom sou ’n verta­ling: “glaskristal” van pas wees.

Hiasint (Hebreeus lsm Eks 28:19; 39:12; Grieks huakinthos; Vulgaat huacinthus Op 21:20). Dit is die elfde steen in die fondament van die Nuwe Jerusalem. Dit is ’n geelbruin of oranje halfedelsteen, harder as kwarts, en deur mense as ’n talisman gedra om iemand te beskerm teen storms. Volgens die voorkoms van huakinthos in Op 21:20 is dit ’n blouerige steen soos ’n turkoois. Ook in Op 9:17 moet die blou kleur voorop staan. Die Hebreeuse l?s (Eks 28:19; 39:12) wat die stam Gad* verteen­woordig, is dieselfde as ’n hiasint.

Jaspis (Hebreeus jsph; Septuaginta jaspis; Vulgaat jaspis). Dit is die twaalfde steen in die borsplaat van die hoëpriester (Eks 28:18; 39:11), simbolies verteenwoordigend van die stam Benjamin*. Dié halfedelsteen kon in verskeie kleure aangetref word, soms as groen kwarts of soms net as kleurloos deurskynend. Dit is ook gebruik in seëlringe. Die jaspis is ook die eerste steen in die fondament van die Nuwe Jerusalem. Die Septuaginta vertaal die Hebreeuse kdkdh (Jes 54:12) deur jaspis. Soms word dié kadkôd as ’n rooi robyn gesien en deur andere as ’n groen jaspis. Die naam jaspis kon verskeie kleure hê en het ’n groot verskeidenheid stene benoem.

Karbonkel (Hebreeus brqt; Septuaginta smaragdos: Eks 28:17; 39:10; Eseg 28:13). Na aanleiding van die Septuaginta se vertaling smaragdos (smarag) was dit moontlik ’n groen steen. Volgens Jes 54:12 kon dit ook ’n rooi steen gewees het. Die borsplaatsteen was moontlik ook rooi. Die rooierige kleur van die steen het daartoe gelei dat “karbonkel” die noemnaam van ’n hele groep stene was. Die Hebreeuse gphr (Eks 28:18; 39:11; Eseg 28:13) word deur die Septuaginta met anthrax vertaal en deur die Vulgaat met carbunculus. ’n Algemene noemer vir dié groep stene sou granaatsteen (“garnet”) kon wees.

Koraal (Hebreeus r’mwt; Septuaginta meteora; Vulgaat excelsa, sericum, Job 28:18; Spr 24:7; Eseg 27:16). Die Fenisiërs het knope van koraal aan krae en klere vasgewerk. Koraal is deur die Babiloniese pêrelvissermanne in die Rooisee en Indiese Oseaan uitgehaal. Koraal kan swart of rooi van kleur wees. In Klaagl 4:7 is sprake van rooi koraal (Hebreeus penînîm). Dit is as baie waardevol beskou. Tans word dié rooi koraal veral aan die kus van Noord-Afrika aangetref.

Kristal (Hebreeus gbs Job 28:18; qrh Eseg 1:22; Septuaginta gabis; Vulgaat eminentia en krustallos in Grieks en crystallus in die Vulgaat in Eseg 1:22). Dit was ’n deurskynende glasagtige stof. Job plaas kristal in dieselfde kategorie as goud, oniks, saffier, glas en topaas. Soms word qrh met “ys” vertaal. Enige harde en deurskynende stof is as kristal beskou. In Job 28:17 word die Hebreeuse zkwkt deur sommige met “glas” vertaal. Dié Hebreeuse stam staan in verband met die betekenis “om suiwer te wees”, daarom die vertaling glas of kristal.

Oniks (Hebreeus shm; Septuaginta onuchion; Vulgaat lapis onuchinus). Dié halfedelsteen is die elfde steen in die hoëpriester se borsplaat (Eks 28:20; vgl Eks 25:7; 35:9, 27; 39:6; 1 Kron 29:2; Job 28:16; Eseg 28:13), simbolies verteenwoordigend van die stam Josef*. Dit is ’n groen steen of ’n deurskynende agaat met wit en swart lae. Volgens Op 21:20 word dit sardonux genoem. Die onikssteen met sy pragtige lae is gebruik om borsspelde (cameos) van te maak.

Pêrel (Hebreeus gbs Job 28:18a). In Job 28:18b tref ons die Hebreeuse pnnm aan wat ook deur pêrel vertaal kan word. Dieselfde Hebreeuse woord word ook in Pred 3:15; 8:11; 20:15; 31:10 en Klaagl 4:7 aangetref. Al die voorkomste van pnnm kan deur pêrel weegegee word, alhoewel vertalings soos “koraal”, “juweel” en “robyn” ook voorkom. Die ligroos pêrels van die Rooisee sou met pnnm identifiseer en “kwarts” sou die Hebreeuse gbs weergee. Die Nuwe-Testamentiese margarites in Op 17:4 en Matt 13:45 is ongetwyfeld pêrels. Die hekke van die Nuwe Jerusalem is elk van een groot pêrel (margaritïs) gemaak (Op 21:21).

Saffier (Hebreeus spr; Septuaginta sappheiros; Vulgaat sapphirus Eks 24:10; 28:18; 39:11; Job 28:6, 16; Jes 54:11; Klaagl 4:7; Eseg 1:26; 10:1; 28:13). Saffier was die antieke naam vir lapis lazuli, ’n diepblou halfedelsteen met goue vlekke. Lapis lazuli is ook die blou saffier volgens Op 21:19. Dit is egter nog nie die blou saffier wat ons vandag ken nie.

Sardius (Hebreeus ’dm; Grieks sardion). Dit kom in Eks 28:17 en 39:10 voor, asook in Eseg 28:13. Die sardion in Op 21:20 is waarskynlik dieselfde steen – rooibruin van kleur tot donkerrooi. Die Hebreeuse ’dm kom van ’adam wat “om rooi te wees” beteken. Ons tref die sardion ook in Op 4:3 aan. Dit moet deur karneool benoem word.

Sardoniks (Grieks sardonux Op 21:20). Dit is familie van die agaat-groep stene en het afwisselende lae bruin en wit. Dit is die vyfde fondament van die Nuwe Jerusalem. Volgens die skrywer Plinius was die naam sardoniks eers gegee aan ’n Indiaanse sarda. Die sardoniks is van die agaat-familie stene. Die onderste laag was bruinrooi en die heel boonste laag wit. Net soos met die oniks is ook die sardoniks gebruik om borsspelde (cameos) van te maak.

Smarag (Hebreeus npk Eks 28:18; 39:11; asook Eseg 27:16 [teks onseker]). Dit was ’n groenerige steen soos ons moderne smarag. Volgens die Septuaginta (anthrax) kon dit ook ’n pers granaatkleur hê. Die Hebreeuse brqm (Eks 28:17; 39:10) verteenwoordig simbolies die stam Levi*. Die smaragdos (Grieks) is die vierde steen in die fondament van die Nuwe Jerusalem (Op 21:19). Ook Josefus vertaal brqm deur smarag. In Job 13:21; Pred 32:8; Jud 10:19 kan dit deur smarag vertaal word.

Topaas (Hebreeus ptdh Eks 28:17; 39:10; Job 28:19; Eseg 28:13; Grieks topazion Op 22:20; Vulgaat topazius). Dit is die tweede steen in die borsplaat van die hoëpriester (Eks 28:17), simbolies verteenwoordigend van die stam Simeon*. Dit is ook die negende steen in die fondament van die Nuwe Jerusalem (Op 21:20). Dit word eerder beskou as ’n chrisoliet as ons moderne to­paas. Dit was besonder hard en wanneer dit verhit word, het dit elektrisiteit uitge­straal. Dié halfedelsteen was waarskynlik geel­kleuirig, afhangende van die land van herkoms.

Vuursteen (Hebreeus ’eqdah Jes 54:12; Septuaginta krustallos; Vulgaat lapides sculpit, gegraveerde steen). Dié seldsame Hebreeuse benaming word ook met “carbuncle” vertaal en met “garnet”. Laasge­noem­de is die vuursteen omdat ’qdh verband hou met “om te brand” (qdh). Die be­skry­wende benoeming is karbonkel of ro­byn.

Yskristal (Hebreeus qrh Eseg 1:22). Die Hebreeuse woord qrh word slegs in ’n vergelyking gebruik. ’n Vertaling “yskristal” lyk na die beste opsie.

Bogenoemde bespreking word saamge­vat in die volgende tabel:

Vir verdere lees: JA Loewen 1984. “A suggestion for translating the names of precious stones” in: The Bible Translator 35,2. WW Reader 1981. “The twelve jewels of Rev 21:19 20” in: Tradition history and modern interpretations JBL 100,3. W Schumann 19982. Gids van edel en sierstenen. Baarn: Tirion.

 

Sidebar