BUTI, ERNST TSHEDISO SAMUEL

BUTI, ERNST TSHEDISO SAMUEL (1910–1979) is in die distrik Theunissen gebore as seun van evangelis Samuel en Ellen Buti. Ná sy opleiding aan die Stofberg-gedenkskool het hy skoolgehou en tot senior klerk in die mynbedryf gevorder. Hy het in 1947 besluit om hom aan die Teologiese Skool Stofberg as predikant te bekwaam en was sedert 1951 predikant van vier gemeentes van die NG Kerk in Afrika*. Die laaste hiervan was Thokoza by Alberton (1968–1979) waartydens Buti verskeie kerkampte beklee het: hy het in 1968 assessor (ondervoorsittter) van die Suid-Transvaalse Sinode geword en was in 1975 die eerste swart predikant wat as moderator* van dié sinode* van die NG Kerk in Afrika verkies is. Buti was ook afgevaardigde na die vergaderings van die Gereformeerde Ekume­niese Sinode in Sydney (1968) en Kaapstad (1976), asook na die Federale Raad van NG Kerke in 1972, 1974 en 1978. Buti het ’n versoenende rol in kerkverenigingspogings gespeel en is as vreeslose en gerespekteerde leier binne en buite die kerk deur die swart gemeenskap aanvaar. Hy het homself bewys as ’n goeie onderhandelaar.

Vir verdere lees: CJ Beyers 1987. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek, deel 5. Pretoria: RGN.

Sidebar